Die regte mense en die regte omgewing
2023-09-07Lukas 8:54 AFR53
Die Bybel sê: ‘Terwyl Hy nog spreek, kom daar iemand van die owerste van die sinagoge se huis en sê vir hom: U dogter is dood… Maar toe Jesus dit hoor, antwoord Hy hom en sê: Moenie vrees nie. Glo net, en sy sal gered word. En toe Hy in die huis kom, het Hy niemand toegelaat om in te gaan nie, behalwe Petrus en Jakobus en Johannes en die vader en die moeder van die meisie. En almal het gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Hy sê: Moenie huil nie; sy is nie dood nie, maar slaap. En hulle het Hom uitgelag, want hulle het geweet dat sy dood was. En toe Hy almal na buite uitgejaag het, gryp Hy haar hand en roep uit en sê: Dogtertjie, staan op! En haar gees het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan; en Hy het beveel dat hulle haar iets te ete moes gee’ (verse 49-55 AFR53).
Daar is belangrike lesse hieruit te leer. Om die opstandingskrag van Christus te ervaar, het jy die regte mense en die regte omgewing nodig. Net soos olie en water nie sal meng nie, sal geloof en twyfel ook nie. Let op dat Jesus Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom in die huis geneem het en die res van die mense uitgejaag het. Was sommige van hulle dalk beledig en het hulle Hom daaroor gekritiseer? Seker, maar wanneer jy jouself in ‘n krisis bevind, moet jy jouself met mense wat saam met jou op God se Woord kan staan en Hom vir die antwoord kan glo, omring. In die oorspronklike Griekse teks het Jesus gesê: ‘Moenie bang wees nie; glo net en hou aan glo en sy sal gesond word.’ Jy het mense nodig wat saam met jou God sal aanhou glo vir die antwoord.
Sielskos: Eseg 14:1-16:52; Mark 11:1-11; Ps 112; Spr 20:1-4