Die protokol vir kerk

2021-01-14
Psalm 100:4 NLV

Een Sondag het ‘n man met eenvoudige klere aan ‘n kerk in Nederland besoek en ‘n sitplek naby die preekstoel ingeneem. ‘n Paar minute later het ‘n vrou die kerkbank genader. Toe sy die vreemdeling in die kerkbank sien sit, het sy hom kortaf ingelig dat hy op haar sitplek sit. Die man het op ‘n aangename manier verskoning gevra en na een van die kerkbanke aan die agterkant, wat vir die armes uitgehou is, beweeg en daar gaan sit. Daar het hy na die diens geluister en na die tyd sonder enige verdere insidente die kerk verlaat.

Toe die diens verby was, het een van die vrou se vriende haar gevra of sy weet wie die persoon is wat sy uit haar kerkbank geskop het. ‘Nee,’ het sy ewe geantwoord, ‘seker maar net een of ander vreemdeling.’ Sy was geskok om by haar vriend te hoor dat die vreemdeling koning Oscar van Swede was, wat in hulle land op besoek aan die Nederlandse koningin was.

Of jy nou na ‘n groot of klein kerk toe gaan, Jesus, die Hoof van die kerk, het gesĂȘ: ‘Waar twee of drie bymekaarkom omdat hulle my mense is, is Ek immers ook saam met hulle daar’ (Matteus 18:20 NLV). Dit beteken dat Jesus, die Koning van Konings, by jou kerk teenwoordig sal wees. Jy moet sy teenwoordigheid herken, Hom aanbid en Hom jou sentrale fokus maak. Andersins kan jy net sowel by ‘n sosiale klub aansluit of by die huis bly.

Die Psalmdigter gee vir ons die protokol vir kerk: ‘Gaan sy poorte in met dankliedere, sy hofsaal met lofgesange. Dank Hom en prys sy Naam. Want die Here is goed. Sy troue liefde hou aan vir altyd, sy trou is van geslag tot geslag’ (Psalm 100:4-5 NLV).

Sielskos: Eks 30-32; Matt 7:1-14; Ps 74:12-23; Spr 2:7-8