Die opstanding vereis ‘n besluit

2022-04-17
1 Korintiërs 15:4 NLV

‘Die kern van die boodskap… was dat Christus, soos in die Skrif staan, vir ons sondes gesterf het. Ook dat Hy begrawe is en God Hom op die derde dag opgewek het, soos in die Skrif staan. Verder dat Hy aan Petrus verskyn het en daarna ook aan die twaalf apostels. Daarna het Hy aan meer as 500 van sy volgelinge tegelyk verskyn… Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en later aan al die apostels. Heel laaste van almal het Hy ook aan my verskyn…’ (1 Korintiërs 15:3-8 NLV).

Sommige van die geskiedenis se grootste denkers was eers ateïste voor hulle later hul vertroue in Christus geplaas het. Hoekom? Omdat hulle die bewyse ondersoek het! Hulle het geweet dat indien Jesus was wie Hy beweer het – vleesgeworde God wat menslike gestalte aangeneem het – wat vir ons sondes gesterf en weer opgestaan het, dat hulle ‘n lewensveranderende besluit moes neem: om Hom of te aanvaar, of te verwerp. Jy moet dieselfde besluit neem.

Petrus het vir die skare op Pinksterdag gesê: ‘Maar julle het… Hom aan die kruis gespyker en vermoor. God het Hom egter… weer laat opstaan…’ (Handelinge 2:23-24 NLV). Hulle het gevra: ‘…’Broers, wat moet ons doen?’ Petrus antwoord hulle: ‘Kom tot inkeer en maak reg met God’…’ (Handelinge 2:37-38 NLV). Daardie dag is drieduisend siele vir Christus gewen en die kerk het sy aanvang geneem.

Jesus het vir jou sondes gesterf en weer opgestaan, sodat Hy as voorstander jou voor die troon van God kan verteenwoordig. As jy wys is, sal jy Hom as jou Here en Redder aanvaar, met die wete dat Hy vir jou ‘n oorvloedige lewe nou en ‘n ewige lewe in die hemel, sal gee.

Sielskos: 1 Kor 15; Luk 24:1-12