Die opstanding; God se lokval

2022-04-16
1 Korintiërs 15:55 NLV

Wetstoepassers gebruik lokvalle om slegte ouens om die bos te lei om hulle so tot ‘n val te bring. Dis wat God aan die kruis met Satan gedoen het. Vir drie dae het dit gelyk of Satan gewen het. Toe het Jesus uit die dood uit opgestaan en sy planne omver gegooi: ‘So het Hy die hemelse en aardse magte ontwapen. Hy het hulle in die openbaar bespotlik gemaak deur aan die kruis oor hulle te triomfeer’ (Kolossense 2:15 NLV).

Die ding wat Satan die meeste gevrees het; die geboorte van ‘n kerk met die krag om die wêreld deur die evangelie te verander, het gebeur. ‘Maar die heersers van hierdie wêreld het dit nie begryp nie. As hulle dit wel begryp het, sou hulle nooit ons Here aan wie die heerlikheid behoort, gekruisig het nie’ (1 Korintiërs 2:8 NLV).

Christus se vyande het selfs probeer keer dat die waarheid oor die opstanding bekend word: ‘Hulle het vir die soldate ‘n groot som geld aangebied en vir hulle gesê: ‘Julle moet vir die mense vertel: ‘Sy dissipels het mooi in die nag gekom terwyl ons aan die slaap was, en sy liggaam gesteel’…’ Die wagte het toe die geld gevat en gedoen soos aan hulle voorgesê is…’ (Matteus 28:13-15 NLV).

Hoekom haat sommige mense vir Jesus? Omdat die opstanding die fundamentele bewys is dat Hy die Here is! Jy kan immers nie gered word as jy nie in die opstanding glo nie: ‘Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Want as ons glo met ons hart, word ons vrygespreek en as ons met ons mond bely, word ons gered’ (Romeine 10:9-10 NLV).

Sielskos: Lev 26-27; Luk 23:50-56; Ps 69:7-21; Spr 10:6-7