Die oop-deur beleid

2017-12-30
Handelinge 16:10 NLV

Die Bybel sê: ‘Hulle het daarna deur die streke van Frigië en Galasië gereis omdat hulle deur die Heilige Gees verhinder is om die woord op daardie stadium in die provinsie Asië te verkondig. Toe hulle naby Misië kom, het hulle Bitinië toe probeer gaan, maar die Gees van Jesus het hulle nie toegelaat nie. Hulle het toe deur Misië gereis na Troas toe. Daar het Paulus in die nag ‘n visioen gehad. Hy het ‘n Masedoniese man gesien wat hom staan en smeek: ‘Kom oor na Masedonië toe en help ons.’ Nadat Paulus die visioen gesien het, het ons onmiddellik Masedonië toe vertrek omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie daar te verkondig’ (verse 6-10 NLV). God het ‘n ‘oop-deur beleid.’ Wanneer Hy ‘n deur oopmaak, is jy veronderstel om daardeur te loop. Let egter op dat toe God Paulus daarvan weerhou het om in Asië in te gaan, het hy nie rondgehang en gevra, ‘Hoekom, Here?’ nie. Hy het aanhou beweeg. Vir Paulus was dit niks snaaks om iets te probeer en dan werk dit nie uit nie. Hy het geglo dat sy gawe aan God sy gewillige hart is; en God se gawe aan hom was dat Hy hom altyd sou lei waarheen hy moes gaan. Dit wat God voorkom is net soveel goddelike leiding as dit wat Hy toelaat. Elke deur wat nie oopgaan nie, elke geleentheid wat jy nie kry nie en elke oproep wat nie deurkom nie is net soveel God se leiding as die wat doen. Die wete dat jy nie kan bly waar jy nou is nie mag dalk die beginpunt van God se leiding in jou lewe wees. Hierdie leiding begin dikwels met ‘n roering en ‘n rusteloosheid in jou siel.

Sielskos: Job 38-39; Luk 3:11-20; Ps 27; Pred 12:13-14