Die kruks van die saak omtrent geld
2023-07-23Spreuke 13:7 NLV
Die Bybel sê: ‘Sommige mense gee voor hulle is ryk, maar hulle het eintlik niks nie. Ander maak of hulle arm is, maar intussen besit hulle baie’ (vers 7 NLV). Dis ‘n seën om die goed te hê wat geld kan koop, solank as wat jy dit wat geld nie kan koop nie, nie uit die oog verloor nie. Geld kan enigiets koop wat te kope is. Die grootste dinge in die lewe, soos jou gesondheid en jou verhoudings, kan egter nie met geld gekoop word nie.
Jy kan dit wat die Bybel oor geld sê met die volgende drie stellings opsom:
1) Wie jy is, is belangriker as wat jy besit. ‘Dit is beter om arm te wees en eerbaar te lewe as om oneerlik te lewe en ryk te wees’ (Spreuke 28:6 NLV).
2) Wat God in jou sien, is belangriker as wat jy besit. ‘Dit is baie beter om min te hê en ook respek vir die Here, as om groot rykdom te besit met die onrus daarmee saam’ (Spreuke 15:16 NLV).
3) Wat ander van jou dink, is belangriker as wat jy besit. ‘Soek eerder na ‘n goeie naam as na groot rykdom. Hoë aansien is beter as silwer of goud’ (Spreuke 22:1 NLV).
Moenie probeer om tred te hou met die bure nie. Die bure mag dalk een stappie weg van bankrotskap of die skeihof wees. Die waarheid is dat jy nooit gelukkig sal wees met wat jy het, totdat jy leer om gelukkig te wees met dit wat ander mense het en jy nie het nie. Die Bybel sê vir ons dat hebsug ‘n sonde is. En hebsug is eenvoudig om nie te geniet wat God vir jou gegee het nie!
Sielskos: 2 Kon 20:1-11; Heb 8:7-13