Die krag van invloed (2)
2021-06-27Galasiërs 5:22 AFR83
Almal het invloed op iemand. Dis wat jy met daardie invloed doen wat bepaal of dit negatief of positief is. Sosioloë vertel ons dat selfs die skaamste en grootste introvert in ‘n leeftyd omtrent tienduisend mense sal beïnvloed. Elke interaksie wat jy met ‘n ander persoon het, verryk of verarm daardie persoon. Invloed is nooit neutraal nie. Jy kan dit ook nie afskakel nie, omdat dit in die struktuur van die lewe self ingebou is. Dit maak ook nie saak wat jou titel is nie. Jou karakter sal bepaal of jou titel by jou pas.
Die Bybel sê: ‘Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing…’ (Galasiërs 5:22-23 AFR83). Wanneer jy daardie kwaliteite het, sal mense in ‘n ry staan om jou te help, vir jou lief te wees en jou te volg. Jy vra: ‘Hoe kan ek al hierdie kwaliteite uitstraal?’ Menslik gesproke, kan jy nie. Dis die slegte nuus. Die goeie nuus is egter dat dit nie net ‘n moontlikheid is nie, maar ‘n werklikheid – wanneer jy onder die invloed van God se Gees is.
Daar word ‘n storie vertel van ‘n seuntjie wat elke nag uit sy bed geval het en sy ma met sy gehuil wakker gemaak het. Een nag nadat sy hom weer in die bed gesit het, het sy gevra: ‘Hoekom hou jy aan om uit die bed uit te val?’ Hy het vir ‘n minuut daaroor gedink en toe gesê: ‘Ek het seker te naby aan die plek waar ek ingeklim het, gebly.’
Verlossing is die beginpunt, maar tensy jy elke dag onder die invloed van Jesus deurbring, sal jy nie volwasse word, jou geestelike gawes ten volle gebruik of jou Godgegewe lewensopdrag ontdek en vervul nie.
Sielskos: 1 Kon 17:17-24; Mark 5:21-43; Joh 11:1-45