Die krag van gedeelde geloof
2023-11-08Amos 3:3 NLV
As jy wil weet hoe die persoon met wie jy trou oor vyf-en-twintig jaar gaan lyk, kyk net na hulle ouers om ‘n idee te kry. Gereelde oefening en ‘n goeie dieet sal jou net so ver bring, dan begin Moeder Natuur en Vader Tyd hulle tol eis. Die waarheid is dat ‘n mooi voorkoms julle dalk saam gebring het, maar dat slegs toewyding en ‘n gedeelde geloof julle bymekaar sal hou!
Die Bybel sê: ‘Moenie saamspan met ongelowiges nie, want watter vennootskap kan daar wees tussen reg en onreg? Of watter gemeenskap kan daar wees tussen lig en duister? Watter ooreenkoms kan daar wees tussen Christus en Belial? Of watter gemeenskaplikheid kan daar wees tussen ‘n gelowige en ‘n ongelowige?’ (2 Korintiërs 6:14-15 NLV).
Dit beteken nie dat julle twee identiese sienings oor elke saak moet hê of julle geloof op dieselfde manier moet uitoefen nie. Julle het egter dieselfde waardes en sienings rakende die grondbeginsels van julle geloof nodig – hoe julle God, die rol van die kerk en persoonlike praktyke sien.
Geloof is daardie onbeskryflike krag, daardie geheime wapen van die siel wat ons toelaat om selfs wanneer die feite verdoemend en die waarheid ondraaglik lyk, te volhard. Dis wat ons in staat stel om voort te gaan wanneer ons nie seker is ons kan nog ‘n tree gee nie. Dis die lig wat ons uit die donkerte lei en die kaart wat ons pad rig. Sonder geloof sou ons seker langs die pad stilhou, tou opgooi en kyk hoe almal anders ons verbysteek. Wanneer ons egter op die Here vertrou en glo dat Hy ons sal lei, is daar amper niks wat ons nie kan weerstaan of saam kan deurmaak nie.
Sielskos: 1 Joh 1:1-3:10; Joh 8:1-11; Ps 123; Spr 25:18-20