Die geheim tot selfbeheersing
2023-08-09Kolossense 3:2 NLV
Om ‘n gedissiplineerde lewe te lei, moet jy gedissiplineerde gedagtes hê. Jesus het gesê dat Satan se drievoudige doel is ‘…om te steel, dood te maak en te vernietig…’ (Johannes 10:10 NLV). Op jou eie staan jy nie ‘n kans teen Satan nie, maar God sal jou die krag gee om sy strategieë te oorkom en selfbeheersing uit te oefen.
Die Bybel sê vir ons hoe om dit te doen: ‘Laat julle gedagtes beheer word deur die hemelse dinge, nie deur die dinge op hierdie aarde nie.’ Let op die woorde: ‘Laat julle gedagtes beheer word.’ Baie motors kom met ‘n funksie om die spoed te beheer. Wanneer jy die spoedperk bereik, stel jy die motor se rekenaar deur ‘n knoppie te druk en die motor behou dan daardie spoed. Dit sal nie die spoedperk oorskry of stadiger ry nie. Op ‘n soortgelyke wyse, wanneer jou gedagtes met God se Woord geprogrammeer word, beheer jy jou gedagtes en begeertes deur dit op die dinge wat God behaag, eerder as op die dinge wat jou aardse natuur bevredig, in te stel.
Selfdissipline is die prys wat jy vir vryheid betaal. Wanneer jy deur jou impulse beheer word, is jy nie vry nie, jy is ‘n slaaf. Jy kan selfs ‘n slaaf van goeie dinge word. Soos die ou gesegde lui – te veel van ‘n goeie ding is ‘n slegte ding! Paulus skryf: “Jy kan dalk sê: ‘Ek mag nou enigiets doen.’ Maar ek sal daarop antwoord: ‘Nie alles is vir jou goed nie. Selfs al sê jy ‘ek mag enigiets doen’, mag ek my nie deur enigiets laat verslaaf nie'” (1 Korintiërs 6:12 NLV). Die geheim tot selfbeheersing is dus om jou gedagtes met God se Woord te programmeer.
Sielskos: Deut 22-24; Mark 4:1-12; Ps 119:17-24; Spr 17:7-10