Die geheim om moeilike tye te oorleef
2021-06-12Filippense 3:8 ABA
Die geheim om moeilike tye te oorleef, lê nie in wat jy weet nie, maar wie jy ken. Jy sê: ‘Op die oomblik het ek meer probleme as Job.’ Wel, toe die bodem uit Job se wêreld geval het, het hy gesê: ‘Maar Hy weet waarheen ek gaan! Wanneer Hy my toets soos goud in ‘n vuur sal Hy my onskuldig verklaar. Want ek het op sy paaie gebly en Hom gevolg sonder om weg te draai. Ek het alles gedoen wat Hy my beveel het. Wat Hy sê, het ek in my hart bewaar’ (Job 23:10-12 NLV).
Paulus se lewe was ook nie ‘n piekniek nie: ‘Ek was dikwels op reis; in gevare van riviere; van rowers; van my volksgenote; van nie-Jode; gevare in die stad en in verlate gebiede; gevare op see en gevare onder vals medegelowiges. Ek weet van harde werk en swaarkry, van baie nagte se wakkerbly, van honger en dors; van dikwels sonder kos te moet klaarkom, van koue en sonder klere wees. Behalwe al dié dinge, was daar nog elke dag die bekommernis oor al die gemeentes’ (2 Korintiërs 11:26-28 NLV).
As mens hierdie lys so lees, wonder mens hoe Paulus dit alles oorleef het. Paulus het die geheim geken om moeilike tye te oorleef. Hy het sy probleme toegelaat om hom nader aan die Here te dryf: ‘…Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk. Ek is dus tevrede met my swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede ter wille van Christus, want wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk’ (2 Korintiërs 12:9-10 NLV). Wil jy dit hê wat Job en Paulus gehad het? Beweeg dan nader aan die Here – dít is die geheim!
Sielskos: 2 Kon 16:1-18:16; Mark 15:33-47; Ps 80:1-11; Spr 13:11-12