Die gawe van enkellopendheid

2020-07-16
1 Korintiërs 7:7 NLV

Daar is niks fout daarmee om enkellopend te wees nie. Soms wanneer ons ‘n pragtige vrou of man sien wat ongetroud is, dink ons: ‘Ek wonder wat is fout met hulle?’ Niks nie! Daar mag inderwaarheid dalk iets met hulle verkeerd wees indien hulle getroud was, want dis beter om enkellopend te wees as om met die verkeerde persoon te trou. Daar word ‘n verhaal van twee vriende vertel. Een het opgemerk dat sy vriend ‘n trouring aan die wysvinger van sy regterhand dra. ‘Is dit jou trouring?’ het hy gevra. ‘Ja,’ het die eerste vriend geantwoord. ‘Nou hoekom dra jy dit aan die verkeerde vinger op die verkeerde hand?’ Sy vriend het geantwoord: ‘Want ek het met die verkeerde vrou getrou.’ Ons glimlag, maar die Bybel leer ons dat die enkellopende lewe nie net ‘n goeie lewe is nie, maar ‘n begaafde lewe. Paulus skryf: ‘Eintlik sou ek wens dat almal – soos ek – sonder die huwelik sou regkom. Maar ons het verskillende gawes van God ontvang, die een hierdie, die ander een weer ander.’ Dit beteken nie dat jy meer geestelik is as jy ongetroud is nie. Die feit bly egter staan, party mense is deur die Here gekies en van die genade voorsien om enkellopend te bly. Paulus was een van hulle. Hy skryf: ‘Nou wil ek vir die ongetroudes en die weduwees sê: Dis beter om soos ek ongetroud te bly’ (vers 8 NLV). Paulus het, met die uitsondering van sewe jaar, sy hele bediening in die tronk deurgebring, waar hy die sendingbriewe geskryf het. Sy Godgegewe opdrag in die lewe het by enkellopendheid gepas. Die punt is, niemand moet ooit skaam of verleë wees omdat hy of sy enkellopend is nie.

Sielskos: Hand 1:1-3:10; Luk 7:36-50; Ps 123; Spr 16:1