Die Bybel en jou gesondheid (2)

2021-02-11
Levitikus 7:23 NLV

God het sy mense oor die gevare wat met diervet geassosieer word, gewaarsku. As jy aan gebraaide of vetterige kos verslaaf is, lees dan die volgende Skrifgedeelte: ‘…Gee vir die Israeliete hierdie instruksies: Julle mag nooit vet eet nie, nie die vet van osse of skape of bokke nie. Die vet van ‘n dooie dier… mag nooit geëet word nie. Dit mag egter wel vir ander doeleindes gebruik word’ (verse 23-24 NLV).

Terwyl poli-onversadige en mono-onversadige vette wat meestal in plantgebaseerde kosse en olies gevind word dieetgesondheid aanmoedig, is die tipe vet wat in baie van die kos wat ons eet versadigde en transvet, wat cholesterol verhoog. Cholesterol is ‘n groot risikofaktor wat tot hartsiektes lei wat beroertes en hartaanvalle veroorsaak. Met betrekking tot prostaatkanker, het ‘n studie aan die Universiteit van Pennsylvania se kankersentrum ook die volgende stelling gemaak: ‘Die vierde algemeenste oorsaak van kanker by mans mag dalk verband hou met versadigde vet inname.’

God het ook vir sy mense wette in verband met higiëne gegee. ‘As die man met ‘n afskeiding gesond word… moet hy sy klere was en in vars fonteinwater bad…’ (Levitikus 15:13 NLV). Gedurende die agtiende eeu het drie uit elke tien moeders tydens kindergeboorte gesterf, selfs al het hulle gesond voorgekom. Hoekom? Omdat dokters in daardie tyd gereeld lyke ondersoek het en dan, sonder om hulle hande te was, na die kraamsaal toe is waar hulle verwagtende moeders ondersoek het. ‘Mikroskopiese siektes’ was ongekend tot 1845, toe Ignaz Semmelweis, ‘n Weense dokter wat ‘die Redder van moeders’ gedoop is, begin aanbeveel het dat hande onder lopende water met ‘n gechlorineerde kalkoplossing gewas moet word. Die sterftesyfer onder nuwe moeders het daarna skerp gedaal. Die punt is: deur volgens die beginsels van die Skrif te lewe, sal jy gesond bly.

Sielskos: Rom 12-14; Matt 13:47-58; Ps 141; Spr 4:18-19