Die beloning vir goedhartigheid (2)

2021-07-30
Genesis 24:19 NLV

Rebekka se verhaal leer ons ‘n belangrike waarheid oor die lewe: Wanneer die geleentheid klop, moet jy gereed wees om die deur oop te maak. Rebekka het nie aan die ekstra inspanning en tyd gedink wat dit sou neem om tien dors kamele water te gee nie. Sy het nie gesê: ‘Ek gaan dit nie doen nie; dis nie in my posbeskrywing nie.’ Sy het volgens hierdie beginsel gelewe: ‘Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen…’ (Prediker 9:10 NLV). Sy het nie skielik werksetiek ontwikkel toe Abraham se slaaf opgedaag het nie, sy het dit elke dag beoefen. Uiteindelik het dit vrugte afgewerp.

Betroubaarheid in klein dingetjies bring groot beloning mee. God is jou baas; Hy hou jou houding en optrede in die klein dinge dop. Groot oomblikke kom nie na mense wat daarop staan en wag nie; hulle kom na mense wat in klein oomblikke betroubaar is, in daaglikse roetines en diens wat nie glansryk is nie.

Jy sal nog iets oplet. Rebekka het nie die Tora aangehaal of die slaaf gevra watter godsdiens hy aanhang nie. In plaas daarvan om ‘super geestelik’ te wees, het sy besluit om goedhartig te wees. Gevolglik het sy sy aandag getrek, sy respek verdien en uiteindelik in Abraham se familie opgeëindig. Beter as dit raak dit nie! Toe Rebekka en Abraham se slaaf by haar familie kom, wou hulle gehad het sy moet tien dae wag voor sy Isak gaan ontmoet. Rebekka het egter gesê: ‘…ek wil gaan…’ (Genesis 24:58 NLV).

Wanneer God die deur oopmaak, moenie wag nie. Moenie sê: ‘Ander mense is meer gekwalifiseerd as ek’ nie. As God jou geroep het, dan is jy die regte persoon vir die werk. Laat dus jou vrese agter en beweeg in die rigting waarin Hy jou lei.

Sielskos: Deut 11-13; Luk 10:13-24; Ps 78:17-31; Spr 16:26-30