Die belangrikste ding
2020-04-21Lukas 10:42 NLV
Daar is twee vyande wat jou geestelike lewe kan bedreig: 1) Verveling. Die sendeling en opvoeder, Frank Laubach, het gesê: ‘As jy moeg is vir ‘n vervelige vorm van toewyding, is God heel waarskynlik net so moeg daarvoor soos jy.’ Om saam met God die pad te stap is die lonendste lewe. ‘…in u teenwoordigheid is vreugde, en aan u regterhand is daar blydskap vir altyd’ (Psalm 16:11 NLV). 2) Besig wees. Jesus het vir Marta gesê: ‘…jy kwel jou tog oor so baie dinge! Daar is regtig net een ding wat die moeite werd is om oor besorg te wees. Maria het dit ontdek…’ (Lukas 10:41-42 NLV). Wat was Maria besig om te doen? Sy het by sy voete gesit en na Hom geluister! Marta het Jesus liefgehad en kon nie genoeg vir Hom doen nie. Sy was egter so besig om Hom te dien, dat sy nie geweet het hoe om te ontspan en tyd saam met Hom te geniet nie. Miskien dink jy, soos Marta, dat as jy nie die werk self doen nie, dit nie reg gedoen sal word nie. Jy mag dalk reg wees. God sal jou egter nooit vra om iets te doen wat sy plek in jou lewe inneem nie. Hy wil jou top prioriteit wees. Dawid het gesê: ‘Een ding vra ek van die Here, en dit sal ek bly soek; om in die huis van die Here te bly al die dae van my lewe, om my te verbly in sy goedheid, en in sy tempel daaroor na te dink’ (Psalm 27:4 NLV). Kan jy jou indink om ‘een ding’ te alle tye aan die toppunt van jou agenda te hê: die behoefte om tyd saam met God te spandeer? Dink net hoe dit jou lewe kan omkeer.
Sielskos: Fil 1-4; Mark 2:23-3:6; Ps 103:13-22; Spr 10:14