Die belangrikheid van die kruis (5)

2020-04-12
Galasiërs 2:19 NLV

Die kruis moet ‘n noodsaaklike deel van jou alledaagse lewe word. Hoekom? Omdat jy drie meedoënlose vyande het wat jy elke dag moet oorwin: sonde, Satan, die self. Hoe oorwin jy hulle? Deur die gekruisigde lewe te leef. Paulus skryf: ‘…Ek is saam met Christus gekruisig. Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my…’ Jy sê: ‘Dis te moeilik om ‘n Christelike lewe te lei!’ Nee, dis nie moeilik nie… dis onmoontlik. Die enigste manier om dit te doen, is om die krag en persoon van Christus toe te laat om deur jou te lewe. Dis hoekom Paulus geskryf het: ‘Maar ek – ek wil my op niks anders beroem as die kruis van ons Here Jesus nie. Want daardeur is die wêreld vir my gekruisig, en ek vir die wêreld’ (Galasiërs 6:14 NLV). Na jare in ‘n Russiese arbeidskamp, het Aleksandr Solzhenitsyn so depressief geword dat hy wou sterf. Hy het sy graaf neergesit en op ‘n bankie gaan sit, met die wete dat daar enige oomblik ‘n wag verby kon kom en daardie graaf kon gebruik om hom mee dood te slaan. Dit was op daardie oomblik wat ‘n mede-gevangene ‘n stok opgetel het en in die sand voor Solzhenitsyn se voete die teken van die kruis gemaak het. Soos hy daarna gestaar het, het sy hele perspektief verander. Hy het besef dat die kruis die grootste mag in die heelal verteenwoordig, stadig opgestaan, sy graaf opgetel en weer onder die teken van die kruis begin werk. Jy moet dit ook doen. Herinner jouself daagliks: ‘Jesus het vir my gesterf. Ek het saam met Hom gesterf. Wanneer ek aan myself sterf, lewe Hy in my. Wanneer Hy in my lewe, kan ek vir Hom lewe.’ Dis die geheim tot ‘n seëvierende Christelike lewe.

Sielskos: 1 Kor 15; Matt 28:1-10; Job 19:25-26; Joh 11:25-26; 1 Pet 1:3; Jes 25:8