Die belangrikheid van die kruis (3)

2020-04-10
1 Korintiërs 1:18 NLV

God wat aan die kruis vir ons sondes sterf, kan dalk ‘belaglik’ vir sekere mense klink. Hulle filosofie is: ‘As ek dit nie kan verstaan nie, sal ek dit nie aanvaar nie.’ Dis waar hulle verkeerd is. Verlossing kom slegs deur geloof. ‘…As julle nie wegdraai van julle sondige lewe en soos die kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van God ingaan nie’ (Matteus 18:3 NLV). Eenvoudige, kinderlike geloof in die voltooide werk van Christus aan die kruis, is al wat benodig word. Daar is ‘n verhaal van ‘n universiteitstudent wie se professor hom nul vir ‘n toets gegee het. Ontsteld het hy gesê: ‘Ek verdien nie hierdie punt nie.’ Die professor het geglimlag en gespot: ‘Ek stem saam, maar nul is die laagste punt wat ek kan gee.’ Dis hoe God oor ons wysheid voel. ‘Want die wysheid van hierdie wêreld is by God dwaasheid…’ (1 Korintiërs 3:19 NLV). Een dag het ‘n man tydens ‘n vloed op sy dak gestaan en gebid: ‘God, red my asseblief.’ Kort daarna het ‘n roeiboot verbygekom en aangebied om hom na veiligheid te neem. Hy het egter gesê: ‘Nee dankie, God sal vir my sorg.’ Skielik het ‘n helikopter te voorskyn gekom en ‘n touleer laat sak om hom te red. ‘O nee, God sal vir my sorg.’ Kort daarna het die man verdrink. Toe hy voor God staan, het die man gevra: ‘Hoekom het U my nie gered nie?’ God het geantwoord: ‘Ek het vir jou ‘n roeiboot en ‘n helikopter gestuur. Wat meer wou jy hê?’ Aan die kruis het God alles gedoen wat nodig is om jou te red. Al wat jy moet doen is om op Christus te vertrou en die geskenk van ewige lewe te ontvang.

Sielskos: Gen 22:1-18; Matt 27:45-56; Ps 22; Jes 53