Die antwoord op angstigheid (4)

2023-09-04
Jesaja 25:4 NLV

Wanneer jy jouself oor die toekoms begin bekommer, onthou waardeur God jou al gebring het. In situasies waar jy gedink het jy nie gaan oorleef nie, het Hy jou laat floreer, nie waar nie? Niks kan jou van sy liefde skei nie (sien Romeine 8:38-39). Jou angs kan egter die sekuriteit wat sy liefde meebring, by jou steel.

Een skrywer sê: ‘Ek was ‘n persoon wat alles wou verstaan, omdat dit my laat voel het dat ek in beheer is. Ek kon dit nie hanteer om nie te weet nie. My gedagtes het die hele dag gemaal met vrae soos: Hoekom het ek dit gedoen? Ek wonder wat so-en-so dink van my besluit om ‘n nuwe kar te koop? Hoekom het God nog nie my gebed oor bevordering by die werk beantwoord nie? Ek wonder of ek iets verkeerd doen, of dalk nie genoeg geloof het nie? Die ‘hoekoms’ in my gedagtes het nooit opgehou nie en dit het my ellendig laat voel. My gedagtes was die tuiste van allerhande ongenooide gaste (kwellende gedagtes), omdat ek eenvoudig nooit ‘nee’ vir hulle gesê het nie. Ek het gewonder, geredeneer, bekommer, gekwel, verbeel en was so angstig dat dit my heeltemal uitgeput het. God het my uiteindelik gewys dat ek aan redenering verslaaf is en dat ek dit moes prysgee. Dit het nie oornag gebeur nie, maar sodra my gedagtes gimnastiek begin doen het, het ek gesê: ‘Ek sal myself nie daaroor bekommer of dit probeer oplos nie,’ en geleidelik was ek in staat om God met my lewe te vertrou.’

God wil vandag jou voorsiener, jou leier, jou raadgewer, jou beskerming en jou ‘alles van alles’ wees. Staan dus op sy Woord wat sê: ‘…Vir die behoeftiges in nood is U ‘n skuilplek teen die hitte en die reën…’

Sielskos: Eseg 1-4; Mark 10:13-22; Ps 111; Spr 19:18-20