Die antwoord op angstigheid (2)
2023-09-02Psalm 55:23 NLV
Hannah Whitall Smith vertel ‘n verhaal wat ongeveer ‘n honderd jaar terug plaasgevind het en tog is dit nog steeds net so relevant soos vanoggend se koerant. ‘n Boer op ‘n perdekar gewaar ‘n man wat met ‘n swaar sak op sy rug loop en daarom bied hy vir hom ‘n rit aan. Die vreemdeling aanvaar die aanbod en klim op die perdekar. Terwyl hulle egter verder reis, sit hy steeds geboë onder die gewig van sy sak. Die boer vra: ‘Hoekom sit jy nie die sak neer nie?’ Die vreemdeling antwoord: ‘Dit sal te veel wees om te vra. Ek is dankbaar dat jy my plek gee op jou perdekar, maar ek sal nooit van jou verwag om my sak ook te dra nie.’
Dis wat ons doen wanneer ons God se aanbod van verlossing aanvaar, maar steeds daarop aandring om ons laste self te dra. God sal nie aan die probleem begin werk totdat jy dit aan Hom oorgee nie. Ons wag tot ons besig is om uitmekaar te val en wonder dan hoekom God ons nie help nie. ‘…En eintlik is die rede hoekom julle nie het wat julle wil hê nie, die feit dat julle God nie daarvoor vra nie’ (Jakobus 4:2 NLV).
Het jy God vir hulp gevra? Het jy die probleem in sy hande geplaas, met die vertroue dat Hy dit ten goede vir jou sal laat uitwerk en wag jy geduldig vir Hom om dit te doen? Dit beteken nie dat jy passief word en rondsit en niks doen nie. Jy moet doen wat jy glo reg is en waaroor jy vrede het. Leer die verskil tussen jou deel en God se deel om te doen en hou op om jouself te frustreer deur te probeer doen wat slegs God kan doen.
Sielskos: Amos 5:18-9:15; Mark 10:1-12; Ps 103:13-22; Spr 19:17