Die antwoord op angstigheid (1)
2023-09-011 Petrus 5:7 NLV
Angstigheid is oormatige besorgdheid. As dit nie hanteer word nie, kan dit belangrike dinge soos selfvertroue, vreugde, vrede, humor en perspektief by jou steel. Angs ontstaan wanneer jy obsessief oor iets raak; jy probeer uitpluis wat gebeur het, probeer weet wat mense dink en sukkel om te besluit wat om te doen. ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys’ (Spreuke 3:5-6 NLV).
Vertroue verg dat jy met onbeantwoorde vrae vrede maak, deur tevrede te wees daarmee dat God weet wat jy nie weet nie. Jy sal nooit al die antwoorde hê nie. Jy sal nooit ‘n perfekte begrip van dinge hê nie. Selfs die apostel Paulus het erken: ‘Ons ken maar net ten dele…’ (1 Korintiërs 13:9 NLV).
Die kuur vir angs begin deur drie dinge te aanvaar: Eerstens, dat God alles weet. Tweedens, dat niks God verras nie. Derdens, dat God nooit sonder ‘n oplossing is nie. Hier is dus jou opsies. Dra self die las, of gee dit aan die Here oor. ‘Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om’ (1 Petrus 5:7 NLV).
Om te leer om op hierdie manier te leef, verg geduld en oefening, moet dus nie oornag ‘n wonderwerk verwag nie. Leer om jouself op heterdaad te betrap wanneer jy jou begin bekommer. Wanneer angs aan die deur klop, sê: ‘Here, hierdie is nie myne nie. Dis U s’n. Dus gee ek dit aan U oor.’ Probeer dit vir die volgende dertig dae en kyk wat gebeur.
Sielskos: Amos 1:1-5:17; Mark 9:38-50; Ps 103:1-12; Spr 19:12-16