Denke deur die Gees gelei
2019-04-261 Korintiërs 2:16 NLV
Die Bybel sê: ‘…’Wat geen oog gesien het; wat geen oor gehoor het; wat in niemand se hart opgekom het nie – dit het God voorberei vir hulle wat Hom liefhet.’ Maar ons ken hierdie geheim omdat God dit deur sy Gees aan ons bekendgemaak het…’ (1 Korintiërs 2:9-10 NLV). Het jy God lief? As jy het, sal Hy sy gedagtes aan jou bekend maak. Wat ‘n voordeel! Paulus skryf: ‘As ons hierdie dinge aan julle vertel, gebruik ons nie woorde wat hulle oorsprong het in menslike slimmigheid nie, maar wat hulle oorsprong het in die Gees. Ons gebruik woorde wat van die Gees kom om geestelike waarhede te verduidelik’ (vers 13 NLV). Moenie dink dat hierdie ‘geestelike dinge’ net tot gebed, Bybelstudie en kerk aktiwiteite beperk word nie. Hierdie belofte is van toepassing op elke area van jou lewe, insluitend jou familie, finansies, jou loopbaan ens. Die Bybel sê: ‘…ons is ingestel om soos Christus te dink.’ Dit beteken dat wanneer jy voor ‘n probleem te staan kom, jy kan bid: ‘Here, help my om hierdie te sien soos U dit sien.’ Wanneer jy ‘n belangrike besluit moet neem, kan jy bid: ‘Here, openbaar dit wat ek nie weet nie aan my en leer my wat ek nodig het om te weet, sodat my besluit in lyn met u wil en die beste vir almal betrokke sal wees.’ In plaas daarvan om God tot die kerk en sogenaamde ‘geestelike aktiwiteite’ te beperk, vra sy hulp in elke area van jou lewe. Psalm 46:11 sê: ‘Wees stil en weet Ek is God!..’ (NLV). Dit beteken dat jy lank genoeg stil moet wees sodat Hy sy denke in jou gedagtes kan plaas. Wanneer dit gebeur – en dit sal – sal jy nooit enige ander manier wil dink nie.
Sielskos: Num 8-10; Mark 2:1-17; Ps 35; Spr 10:28-29