Jou beperkte venster van geleentheid

2024-04-16
Deuteronomium 4:9 NLV

Kom ons lees wat God vir die ouers wat die Beloofde Land binnegegaan het, gesê het: ‘Maar pas op! Wees baie versigtig om nooit te vergeet wat julle gesien het wat die Here vir julle gedoen het nie. Solank as wat julle leef, moet julle hierdie dinge onthou. Maak seker dat julle dit vir julle kinders en kleinkinders oorvertel’ (vers 9 NLV). Let die verloop op. Eerstens: ‘Wees baie versigtig om nooit te vergeet.’ Dan: ‘Maak seker dat julle dit vir julle kinders en kleinkinders oorvertel.’

Jou vermoë om jou kinders te beïnvloed en te vorm word op jou geloofwaardigheid by hulle gebaseer. Wanneer die beginsels waarvolgens jy lewe vreugde, vrede, krag, goedheid, dissipline en sukses bewerkstellig, sal jou kinders jou ernstig begin opneem. Jy het ‘n beperkte venster van geleentheid. Daar is vaardighede wat gedurende vroeë kinderjare aangeleer word, wat baie moeilik is om later in die lewe aan te leer.

Het jy al gewonder hoekom dit so maklik is om vir voorskoolse kinders ‘n taal te leer? Hulle leer dit perfek, sonder ‘n sweempie van ‘n aksent. Vyftien of meer jare later, sal hul dit baie moeiliker vind om dieselfde geluide te maak. Dit kan deur ‘n proses genaamd ‘foneemsametrekking’ verduidelik word. Die larinks van ‘n jong kind neem die vorm wat nodig is om enige geluide wat hy of sy leer om te maak, aan. Dit word dan in daardie posisie gevestig, wat dit onmoontlik of uitdagend maak om ander geluide in latere jare te maak.

‘n Kind se houding teenoor ouerleierskap is soortgelyk. Daarom is dit noodsaaklik om gedurende die voorskoolse en vroeë jare hulle wil te ‘vorm,’ deur onvoorwaardelike liefde met konsekwente onderrig en fermheid by die huis te balanseer. As jy daardie geleentheid misloop, kan die tienerjare rowwer, as wat dit moet, wees.

Sielskos: Joël 1-3; Mark 3:1-6; Ps 56; Spr 10:14-16

Gee jou kinders riglyne om volgens te lewe

2024-04-15
Deuteronomium 6:6-7 NLV

Probeer jy jou kinders agter slot en grendel hou om hulle so uit die moeilikheid te hou? Dit sal nie werk nie. Jy hou hulle nie uit die moeilikheid nie, jy stel dit net uit. Dinge soos aandklokreëls, kleredragkodes, internetgebruik en om meer van hulle vriende uit te vind is deel van goeie ouerskap.

Wanneer jy egter nie by hulle is om hulle te lei nie, het hulle riglyne nodig om volgens te lewe. Hierdie riglyne kan in God se Woord gevind word: ‘Jy moet jouself heelhartig verbind aan die gebooie wat ek vandag vir jou gee. Herhaal hierdie woorde oor en oor vir julle kinders. Praat daaroor by die huis en wanneer julle op pad is, wanneer julle lê of wanneer julle opstaan. Bind dit op jou hande as ‘n herinnering en dra dit op jou voorkop. Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en van jou poorte’ (verse 6-9 NLV).

Is dit nie interessant hoe elke volgende generasie die vorige een as outyds en verouderd beskou nie? Dis egter nie noodwendig ‘n slegte ding nie. Elke generasie glo dat daar ‘n beter manier is om dinge te doen, wat die fondasie van vooruitgang is. Dis hoekom dit net ses ure neem om van New York tot by Los Angeles met ‘n vliegtuig te reis, in plaas van drie weke met ‘n stoomskip.

God se Woord kan die toets van tyd deurstaan. In plaas daarvan om dus jou kinders stil te maak, nooi hulle uit om vrae te vra en aannames uit te daag. Help hulle dan om by die vaste Skriftuurlike riglyne om volgens te lewe, uit te kom. As ouer is daar geen groter geskenk wat jy vir hulle kan gee nie.

Sielskos: Jer 51-52; Mark 2:23-28; Ps 50:16-23; Spr 10:11-13

Jou oes is oppad

2024-04-14
Markus 4:27 NLV

Het jy al ooit ‘n ‘saad’ van geloof gesaai en nou wonder jy wanneer jy die ‘oes’ wat God in sy Woord beloof het, sal kan insamel? Indien dit die geval is, lees verder: ‘…God se koningsheerskappy is soos ‘n boer wat saad op sy land saai. Dan gaan hy voort met sy ander daaglikse aktiwiteite. Intussen ontkiem en groei die saad – hoe, weet hy self nie mooi nie. Die grond produseer die graan vanself: eers kom die eerste blaartjie uit, dan vorm die aar en uiteindelik sit die volgroeide koringkorrel in die aar. En sodra die koring ryp is, steek die boer die sekel in, want die oestyd is daar’ (verse 26-29 NLV).

Voor jy die seën wat God belowe het kan oes, gaan jy deur sekere stadiums. Eers is daar die stadium wat jy self nie weet nie. Jou saad is in die grond begrawe. Hoe en wanneer jou oes kom is totaal van God afhanklik. Jy moet egter glo dat dit gaan gebeur. Volgende kom die blaartjie uit. Dis net ‘n klein blaartjie wat in die bries waai, maar dis genoeg om jou moed te gee en vir jou te wys dat jou oes op pad is. Volgende kom die aar. Die saad het ontkiem en lyk soos dit waarvoor jy gebid het. Dis dan wanneer jy dit met gebed moet water gee, dit met God se Woord moet bemes en dit van enigiets of enigiemand wat dit deur twyfel en ongeloof kan ontwortel, moet beskerm. Uiteindelik is dit die stadium van die koringkorrel, wanneer die koring ryp word en jy onmiddellik begin oes.

Maak nie saak in watter stadium jy jou vandag bevind nie, staan vas en hou aan om op God te vertrou. Jou oes is op pad.

Sielskos: Gal 5:22; Luk 2:8-20; Spr 3:13-18; Ps 119:161-168

Stop en vra vir aanwysings

2024-04-13
Spreuke 14:12 NLV

Jy kan opreg in jou bedoelings wees – maar opreg verkeerd wees. Die Bybel sê die reën val ‘…op dié wat reg doen, maar ook op dié wat verkeerd doen’ (Matteus 5:45 NLV). Die wet van oorsaak en gevolg geld vir almal en al jou goeie bedoelings sal jou nie by die regte bestemming uitbring as jy op die verkeerde pad is nie.

Dink daaroor as volg: Miskien oorweeg jy dit om in ‘n spesifieke maatskappy te belê. Jy doen die navorsing, praat met die kundiges en dinge lyk goed. Jy gaan dus op die aanname dat dit ‘n deurdagte besluit is, voort. Dan gebeur die onverwagte. ‘n Resessie vind plaas en die mark stort ineen. Dis nie jou fout nie; jy was opreg in jou besluit om te belê, maar dit verander egter nie die eindresultaat nie. Jy verloor steeds. Jy kan dit nie bekostig om jou vertroue in dit wat vir mense reg lyk te plaas nie (sien Spreuke 16:25); jy moet die dinge wat reg in God se oë is, najaag.

Jesus het gesê: ‘…Ek is die pad en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie’ (Johannes 14:6 NLV). Dit beteken dat tensy jy jou lewe aan Christus toegewy het, jy reeds op die verkeerde pad is. Draai om en vra Hom om jou sonde te vergewe en om jou op die pad na die ewige lewe te plaas. As jy ‘n gelowige is wat leiding soek, bid, lees jou Bybel en luister na dit wat God vir jou wil sê. Vra God om sy Woord vir jou te interpreteer, jou hart te laat vlamvat en jou in die regte rigting te wys. Hy sal dit doen!

Sielskos: Jer 49-50; Mark 2:18-22; Ps 50:1-15; Spr 10:8-10

Jou persoonlike gids

2024-04-12
Psalm 23:1 NLV

Dis maklik om te sê: ‘Die Here is my herder,’ maar hoe weet jy of dit waar is vir jou en of jy net die woorde sê? Hier is ‘n eenvoudige toets: Wanneer jy hulp nodig het, na wie toe draai jy eerste? Die meeste mense gaan eers na God toe nadat hulle reeds alles anders probeer het. Wanneer niks werk nie, probeer hulle om te bid. Dink aan jou laaste krisis. Die ding of persoon na wie jy eerste vir hulp gedraai het, is jou herder.

‘n Man op ‘n reis na die reënwoude in Afrika was besig om sy gids te volg. Soos hulle dieper in die woud inbeweeg het, het die gids met sy kapmes ‘n weg deur die plantegroei wat soos ‘n muur voor hulle gestaan het, gekap. ‘Hoe weet jy waarheen om te gaan?’ het die man gevra. ‘Waar is die pad?’ Die gids het geantwoord: ‘Ek is die pad.’ Die lewe is soos ‘n oerwoud; jy het ‘n gids nodig wat weet waarheen hy gaan en wat hy moet doen.

Is daar iemand hier op aarde wat gekwalifiseerd is daarvoor? Nee, net die Here is! Daar sal nooit ‘n dag verbygaan waar jy nie sy leiding nodig sal hê nie. Die Bybel sê: ‘…Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit… die skape hou aan om hom te volg omdat hulle sy stem ken’ (Johannes 10:3-4 NLV). Wat ‘n belofte! Daar is altyd baie stemme wat op jou aandag aandring, insluitend sommiges wat nie regtig vir jou omgee nie. Jesus, jou herder, is egter die een stem wat jy altyd kan vertrou om jou op die regte pad te lei. Dis hoekom dit so belangrik is om sy stem te ken.

Sielskos: Jer 45-48; Mark 2:13-17; Ps 25:16-22; Spr 10:4-7

Die Heilige Gees bid deur jou

2024-04-11
Romeine 8:26 ABA

Die lewe kan jou aftrek. Jy kan by ‘n plek kom waar die angs so diep gesetel is of jou stresvlakke so hoog is dat jy nie helder kan dink nie. Die probleem of pyn wat jy ervaar is so oorweldigend dat jy dit nie in woorde kan stel nie. Goeie nuus: Dis dan wanneer die Heilige Gees wat in jou woon, vir jou en deur jou bid.

Soos jy jou laste na die Here toe bring en in sy teenwoordigheid kniel, gebeur daar ‘n wonderlike ding: ‘Die Heilige Gees help ons ook wanneer ons bid. Ons kan nie bid soos God wil hê ons moet bid nie, want ons is swak, maar wanneer die Gees by God kla en sug, dan sê Hy vir God dinge wat mense nie self kan sê nie. God weet alles wat mense dink en Hy weet ook wat die Heilige Gees dink. God weet die Gees doen wat God wil hê, en die Gees sê vir God wat die mense bid, die mense wat aan God behoort’ (verse 26-28 ABA).

Wanneer jy nie weet hoe om te bid nie – word net stil. Bly net met ‘n oop gemoed in God se teenwoordigheid en Hy sal met jou kommunikeer. ‘Julle almal weet egter waaroor dit gaan, want julle dra die salwing van die Heilige Gees’ (1 Johannes 2:20 NLV). Voor God ‘n antwoord in jou gedagtes plaas, plaas Hy sy vrede in jou hart. Dis hoekom gebed nie aangejaag kan word nie. Dis hoekom dit so belangrik is om tyd te neem om voor God te mediteer en stil te wees. Dit laat die Heilige Gees toe om God se gedagtes met jou te deel, sodat jy soos Hy kan begin dink.

Sielskos: Jer 41-44; Mark 2:1-12; Ps 25:8-15; Spr 10:1-3