2024-12-07
Efesiërs 6:11 NLV
Die Bybel sê: ‘…Vind krag in julle verhouding met die Here… Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose hemelse regeerders en maghebbers, teen die geeste wat mag in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes’ (verse 10-12 NLV). Let op die woorde: ‘teen die geeste wat mag in hierdie donker wêreld uitoefen.’
Toe Daniël gebid het, het hy hierdie magtige geeste teëgekom: ‘…Daniël, jy moenie bang wees nie. Van die eerste oomblik af dat jy begin bid het om hierdie dinge te probeer verstaan en in nederigheid voor God gestaan het, is jou gebede al verhoor. Ek is juis hier in antwoord op jou gebed. Die beskermengel van die Persiese Ryk het my 21 dae lank gekeer om na jou toe te kom. Toe het Migael, een van die belangrikste leiers van die engele, my kom help…’ (Daniël 10:12-13 DB).
Wanneer jy toegewyd daaraan is om ‘n pad met God te stap en sy wil te doen, sal Satan jou op elke hoek en draai probeer keer. As hy jou nie daarvan kan weerhou om tyd in gebed te bestee nie, sal hy probeer om jou gebede te blokkeer. Vir een-en-twintig dae lank het Daniël gewonder: ‘Here, U het vantevore my gebede beantwoord; hoekom antwoord U hulle nie nou nie?’ Daniël se antwoord was egter op pad. Joune is ook. Jy moet vasstaan op die Woord van God, in die almagtige en allesoorheersende naam van Jesus bid, weier om ongeduldig te word, weier om op te hou en weet dat God ons gebede hoor en beantwoord.
Sielskos: Gen 37-39; Joh 17:1-26; Ps 147:1-11; Pred 3:5-8
2024-12-06
2 Korintiërs 2:11 NLV
Die Bybel noem Satan ‘n bedrieër. Wanneer iemand teen jou planne smee en jy onbewus daarvan is, kan jy nie voorsorgmaatreëls tref nie en gevolglik kry jy daardeur seer. Een van Satan se doeltreffendste planne is om sy invloed op ons lewens te onderspeel. Hy doen dit sodat hy ons kan uitoorlê.
Die Bybel sê egter: ‘…Sy planne is mos nie aan ons onbekend nie!’ Een dag het ‘n gesprek tussen God en Satan oor die beskerming en seën oor Job se lewe plaasgevind. Satan het vir God gesê: ‘U het hom nog altyd net beskerm. En U het hom voorspoedig gemaak in alles wat hy aanpak… Maar vat nou alles wat hy het. Hy sal U verseker in u gesig vloek!’ (Job 1:10-11 NLV).
God het dit toe gedoen en Satan het Job se finansies, sy kinders en sy gesondheid aangeval. Alhoewel Job se gedagtes met onbeantwoorde vrae gevul was, het sy vertroue in die goedheid van God sterk gestaan en het hy met twee keer soveel as tevore opgeëindig. ‘n Mens kan nie alles wat verkeerd gaan op Satan blameer nie, maar jy maak ‘n ernstige fout om nie bedag te wees wanneer hy in jou lewe aan die werk is nie, omdat hy jou dan kan oorwin. Hoekom? Omdat jy nie weet hoe om terug te veg en die wapens wat God jou gegee het, te gebruik nie.
Jy het God se Woord: ‘…as swaard, die Gees, dit is God se woord’ (Efesiërs 6:17 NLV). As jy nie Satan as die bron van jou probleem identifiseer nie, is dit soos om geblinddoek te veg, met jou swaard wat in alle rigtings swaai in plaas daarvan om Satan te teiken en hom te verslaan.
Sielskos: Gen 35-36; Joh 16:19-33; Ps 2; Pred 3:1-4
2024-12-05
Eksodus 2:3 NLV
Moses se ma het hom in ‘n mandjie gesit, dit in die Nylrivier weggesteek en die gety het hom na die farao se dogter gedra, wat hom aangeneem en hom deel van die farao se familie gemaak het. Die volgende veertig jaar is bestee om hom vir een van die grootste opdragte in die geskiedenis voor te berei: die eksodus. Die rivier het vir Moses van ‘n plek van hopeloosheid en wanhoop geneem na ‘n plek waar alle dinge moontlik geword het. God kan dit vir jou ook doen.
1) Die rivier van sy genade kan jou sondes uitwis, jou in die geregtigheid van Christus klee en jou in ‘n nuwe verhouding met God bring.
2) Die rivier van sy krag kan jou van die plek van mislukking na die plek van oorwinning neem.
3) Die rivier van sy wysheid kan jou van die plek van foute en verwarring na die plek van visie en sukses neem.
4) Die rivier van sy voorsiening kan jou van die plek van gebrek na die plek van oorvloed neem.
Dit kan beteken dat God jou dalk van diegene wat jou afbreek mag verwyder en jou met ‘n nuwe vriendekring verbind, omdat hulle nie verstaan het wat Hy jou geroep het om te doen nie. Of jou in ‘n kerk plaas wat jou geestelik kan opbou en jou kan help toerus om God se plan vir jou lewe te vervul. As slaaf kon Moses se ma hom nie aan farao se dogter voorgestel het nie. God kon egter. En Hy het. Wat God vir Moses gedoen het, sal Hy vir jou doen as jy Hom in gebed soek en sy instruksies volg.
Sielskos: Gen 32-34; Joh 16:1-18; Ps 130; Spr 31:28-31
2024-12-04
2 Konings 3:11 AFR53
Elisa het begin om Elia te dien en het hom daarna in sekere opsigte oortref. In die Bybelse tyd het dienaars die hande en voete van hulle meesters gewas. Elisa het dit gedoen. Hy het met die nederige taak om water op Elia se hande te gooi begin en het uiteindelik Elia se mantel ontvang en dit gebruik om die waters van die Jordaanrivier bonatuurlik te verdeel. Toe Elia hemel toe gegaan het, het Elisa ‘n dubbele deel van sy gees ontvang en uiteindelik twee keer soveel wonderwerke as Elia gedoen.
Daar is ‘n belangrike les hieruit te leer. As jy die bediening van die Here aan die toppunt van die leer wil betree, sal jy misluk. Hoekom? Omdat die enigste bevordering wat saak maak van die Here af kom (sien Psalm 75:6-7). Omdat hy geweet het dat sy tyd op aarde beperk was, het Paulus ‘n opvolgplan vir sy bediening ingestel. As jy wys is, sal jy dieselfde doen. Paulus het die volgende aan Timoteus, sy aangewese opvolger, geskryf: ‘Die Here se diensknegte moenie twis nie, maar moet goedgesind teenoor almal wees…’ (2 Timoteus 2:24 NLV).
Wanneer jy met ander probeer meeding of omstandighede tot jou voordeel probeer uitbuit om bo uit te kom, moet jy nie verbaas wees as God jou pad versper nie. Toe Petrus in die bediening begin het, was hy soos ‘n resiesperd wat nie ingebreek was nie: hoogs gespanne, impulsief en ambisieus. Later het hy egter geskryf: ‘…Trouens, almal moet nederig in mekaar se diens staan, want: ‘God is téén dié wat te veel van hulleself dink, maar dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, aan hulle gee Hy sy onverdiende goedheid.’ Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op sý tyd sal Hy julle groot maak’ (1 Petrus 5:5-6 NLV).
Sielskos: Gen 30:25-31:55; Joh 15:18-27; Ps 65; Spr 31:25-27
2024-12-03
Genesis 25:5 NLV
Abraham het vir Isak twee dinge gegee: sy materiële bates en ‘n goddelike voorbeeld. Wat kon hy nie vir hom gegee het nie? ‘n Persoonlike ervaring met God. Jou kinders moet God vir hulself ervaar. Isak se ontmoeting met God het gebeur toe hy ‘n krisis in sy lewe ervaar het. ‘…die Here… [het] aan hom verskyn en gesê: ‘Ek is die God van jou pa Abraham. Moenie bang wees nie, want Ek is by jou en sal jou seën…’ Toe bou Isak daar ‘n altaar en aanbid die Here…’ (Genesis 26:24-25 NLV).
Charlie Shedd vertel die verhaal van ‘n seuntjie wat by die skool ‘n opstel oor die volgende onderwerp moes skryf: ‘Hoe is ek gebore?’ Toe hy sy ma vra, het sy geantwoord: ‘Die ooievaar het jou gebring.’ Toe hy sy ma vra hoe sy gebore is, het sy geantwoord: ‘Die ooievaar het my ook gebring.’ Met die hoop dat sy ouma hom dalk sou kon help, het hy haar gevra hoe sy gebore is. Sy het geantwoord: ‘Dis maar deel van ons familiegeskiedenis; die ooievaar het my ook gebring!’ Dus het die seuntjie sy opstel met die volgende woorde begin: ‘Vir die afgelope drie generasies was daar nie ‘n normale geboorte in my familie nie!’
Op ‘n ernstiger noot: Jou kinders moet wedergebore word sodat hulle deel van God se verloste familie kan wees. Jy moet poog om hulle na Christus te lei terwyl hulle nog jonk is en hulle denke gevorm kan word. As jou kinders egter ouer is, is dit nie te laat nie. “‘…Hou op huil en droog af jou trane. Ek sal jou beloon vir jou moeite,’ sê die Here. ‘Jou kinders sal terugkom uit die land van die vyand. Daar is hoop vir die toekoms,’ sê die Here. ‘Jou kinders sal terugkom na hulle land toe'” (Jeremia 31:16-17 NLV).
Sielskos: Gen 28:1-30:24; Joh 15:1-17; Ps 14; Spr 31:22-24
2024-12-02
Genesis 12:7 NLV
Die eerste ding wat Noag na die vloed gedoen het, was om ‘n altaar vir die Here te bou. Dink daaroor. Noag het ‘n altaar gehad voor hy ‘n huis gehad het. Die meeste van ons het huise, maar die outydse familiealtaar het feitlik verdwyn. Oral waar Abraham gegaan het, het hy ‘n altaar gebou. Hoekom?
1) ‘n Altaar is ‘n plek van gebed. Die Bybel sê: ‘Dis die plek waar Abram destyds die altaar gebou het. Hier het hy weer die Here aanbid’ (Genesis 13:4 NLV).
2) ‘n Altaar is ‘n plek van opoffering. ‘Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, bou hy ‘n altaar en sit die hout daarop neer. Hy maak Isak vas en sit hom bo-op die hout op die altaar’ (Genesis 22:9 NLV). Wou God gehad het dat Abraham vir Isak moes doodmaak? Nee, God wou net weet: ‘Is daar enigiets wat Ek van jou kan vra wat jy nie bereid sal wees om te gee nie, of enigiets op aarde wat jy meer liefhet as vir My?’ God sal jou nie vra vir dit wat jy nie het nie, maar Hy sal jou dikwels vra vir iets wat jy graag wil behou. Opoffering oorwin die gees van hebsug, die vrees vir gebrek en jou fokus op ‘n selfgesentreerde lewe.
3) ‘n Altaar is ‘n plek van aanbidding. ‘Maak ook ‘n klein altaar van akasiahout om wierook daarop te brand’ (Eksodus 30:1 NLV). Die wierook wat smelt en die rook wat opstyg verteenwoording aanbidding aan God. Aanbidding is ‘n daad van intimiteit; dis om jou hart, jou liefde, jou lof en dank aan God te gee. Die Bybel beskryf dit as ‘…’n lieflike reukoffer…’ (Efesiërs 5:2 NLV). Bou dus vandag ‘n altaar.
Sielskos: Gen 25:19-27:46; Joh 14:26-31; Ps 146; Spr 31:18-21