2025-01-06
Jesaja 65:17 NLV
Satan word ‘die aanklaer’ genoem en hy sal probeer om jou op jou verlede gefokus te hou. Hy kan jou elke dag seermaak, tensy jy God se vergifnis aanvaar, jouself vergewe en vorentoe beweeg. Jesus het jou sonde en skande by die kruis op Homself geneem, maar Satan wil hê dat jy dit moet aanhou dra. Waar kan jy ‘n antwoord kry? Kyk na hierdie Skrifgedeeltes:
1) ‘Kyk, Ek skep ‘n nuwe hemel em ‘n nuwe aarde. Die vorige dinge sal nie meer onthou word nie en nie in die gedagte opkom nie’ (vers 17 NLV). Jy sê: ‘Maar dis eers in die toekoms.’ Dis waar. Die Bybel sê egter: ‘…hulle… wat die kragte van God se toekomstige wêreld beleef het…’ (Hebreërs 6:4-6 NLV), en dat ons lewens kan wees ‘…soos die dae van die hemel bo-oor die aarde’ (Deuteronomium 11:21 AFR53).
2) ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het. Dis niks in vergelyking met wat Ek nog gaan doen nie. Ek gaan iets nuuts doen. Dit het alreeds begin gebeur!..’ (Jesaja 43:18-19 NLV).
3) ‘Moenie bang wees nie, jy sal nie weer verneder word nie. Moenie bang wees vir die skande van voorheen nie. Jy sal die skande van jou jeug vergeet…’ (Jesaja 54:4 NLV). Jy sê: ‘Ek kan nie help om te onthou nie!’ Ja, jy kan! Paulus, wat Christene vermoor en gevange geneem het voor hy ‘n apostel geword het, het gesê: ‘…een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Christus Jesus dit vir my verdien het’ (Filippense 3:13-14 NLV).
God kan jou herinneringe genees, so laat die genesing toe om te begin.
Sielskos: Jes 17-21; Luk 1:57-66; Ps 42:1-5; Spr 1:20-27
2025-01-05
Efesiërs 2:10 NLV
Jou Godgegewe opdrag in die lewe kom met drie dinge:
1) ‘n Plan. ‘…Hy het ons in ons verhouding met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.’ Soos jy tyd in gebed met die Here bestee, sal Hy sy plan aan jou openbaar. Hy sal dit stap vir stap doen. Jy vra: ‘Maar wat as ek ‘n fout maak? Wat as ek struikel?’ Die Bybel sê: ‘Die Here bepaal die rigting van ‘n mens, en met sý lewe is Hy tevrede. Al sou so een struikel, hy sal nie val nie, want die Here hou sy hand vas’ (Psalm 37:23-24 NLV).
2) ‘n Tydraamwerk. Nie net het God ‘n persoonlike plan vir jou lewe nie, Hy skeduleer sekere dinge om op sekere tye in jou lewe plaas te vind. “…want dis tyd om genadig te wees; die bestemde tyd het aangebreek’ (Psalm 102:14 NLV). Dis hoekom jy in pas met God en in tyd met die hartklop van die Heilige Gees wat in jou woon, moet bly.
3) Oorwinning, ten spyte van die onwaarskynlikheid en teenstand. ‘want elkeen wat God as Vader het, oorwin die wêreld. Die oorwinning wat die wêreld verower het, is ons geloof’ (1 Johannes 5:4 NLV). Staan sterk in geloof. Hou aan om op God te vertrou. Jy sê: ‘Maar die omstandighede lyk nie goed nie.’ God is in beheer van jou omstandighede. Hy het die son laat stilstaan om vir Josua ekstra tyd te gee om sy vyande te verslaan en Hy kan die omstandighede ten goede vir jou en tot sy heerlikheid verander.
Sielskos: 2 Kro 7:12-16; Matt 6:5-15; Luk 18:1-8
2025-01-04
Efesiërs 2:10 NLV
In sy boek, How Successful People Grow, identifiseer John Maxwell drie tipes mense:
‘1) Mense wat nie weet wat hulle graag wil doen nie. Hulle het nie doelwitte nie. Hulle vroetel. Hulle dryf rond. Hulle het geen idee waarvoor om te mik nie. Ek glo die hoofrede is dat hulle hulself nie so goed ken soos hulle behoort nie en dus bly hulle ongefokus in hul groei.
2) Mense wat weet wat hulle graag sal wil doen maar dit nie doen nie. Soms doen hulle nie wat hulle graag wil doen nie, omdat hulle bekommerd is dat hulle ander verantwoordelikhede sal afskeep, soos om vir hul families te voorsien. Soms is hulle nie gewillig om die prys te betaal om te leer, te groei en nader aan waar hulle wil wees te beweeg nie. Ander kere weerhou vrees hulle daarvan om van koers te verander en hulle passie na te jaag.
3) Mense wat weet wat hulle graag wil doen en dit doen. Hierdie mense leef die volgende Skrifgedeelte uit: ‘Hy het ons in ons verhouding met Christus Jesus só gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.’ Die derde tipe mense ken hulself, het ‘n sterk passie, is op hulle doelwit gefokus, groei in areas wat hulle help om nader aan hulle doel te beweeg en doen wat hulle geskep is om te doen.
Dit kan moeilik wees om jouself te vind en in jou potensiaal in te groei. Jy moet weet wie jy is om in jou potensiaal in te groei. Jy moet egter groei om sodoende te weet wie jy is.’ Die oplossing daarvoor is om tyd met God te bestee en Hom toe te laat om jou te lei.
Sielskos: Jes 12-16; Luk 1:39-56; Ps 10:12-18; Spr 1:17-19
2025-01-03
Johannes 15:5 NLV
As dit by jou spanning veroorsaak om die Here te dien, lees wat Jesus gesê het: ‘Julle moet aan My verbonde bly soos Ek aan julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die druiwestok verbind bly nie, en só julle ook nie as julle nie voluit aan My verbonde bly nie. Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie’ (verse 4-5 NLV).
Een dag toe die groot sendeling J. Hudson Taylor oorwerk en bekommerd gevoel het, het hy ‘n brief van ‘n vriend wat die geheim van verbondenheid aan Christus ontdek het, gelees. Die brief het Taylor diep geraak en hy het besef dat sy eenheid met Christus vreugde en vervulling, nie bekommernis en spanning nie, tot gevolg moes hê.
Kort daarna het Taylor aan sy suster geskryf: ‘Wat werk betref, myne was nog nooit so volop of so moeilik nie; maar die gewig en spanning is nou weg. Die afgelope maand was miskien die gelukkigste van my lewe; ek verlang om jou ‘n bietjie te vertel van wat die Here vir my siel gedoen het. Ek het na Jesus gekyk en onthou dat Hy gesê het dat Hy my nooit sal verlaat nie. Daar is rus, want het Hy nie belowe om by my te bly nie? Toe ek aan die Wingerdstok en die lote gedink het, het die geseënde Gees lig in my siel uitgegiet!’
Bid dus die volgende: ‘Here, in plaas daarvan om te strewe om te kyk hoeveel ek vir U kan doen, gaan ek aan U verbonde bly en kyk hoeveel U deur my kan doen.’ Dis ‘n gebed wat God sal beantwoord.
Sielskos: Jes 8-11; Luk 1:26-38; Ps 10:1-11; Spr 1:10-16
2025-01-02
Matteus 14:22-23 NLV
Jesus was beide menslik en goddelik. Ons is geneig om meer aan Hom as die Seun van God as die Seun van die mens te dink, dus kyk ons dikwels dit wat ons vanuit sy menslike ervaring kan leer, mis. Toe Jesus wonderbaarlik vyfduisend mense kos gegee het, is sy goddelike krag ten toon gestel (sien Matteus 14:13-21). Tog sien ons na hierdie gebeurtenis sy menslikheid waarmee ons kan identifiseer.
Nadat hy die skare verdaag en die dissipels weggestuur het, het Jesus na ‘n eensame plek op die berg gegaan om alleen saam met God te wees. Na so ‘n groot wonderwerk sou die meeste van ons dit gevier het. Die mense rondom Hom kon ook nie verstaan waarom Hy hulle wegstuur nie. Jesus het egter verstaan dat sy krag nie van die skare af kom nie, maar van sy Vader, dus het Hy tyd gemaak om alleen saam met Hom te wees.
Die verhouding wat Jesus met sy Vader gehad het is ‘n voorbeeld van die verhouding wat jy ook met God kan hê. Drie dinge beskryf so ‘n verhouding:
1) Intimiteit. ‘Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen…’ (Johannes 5:20 NLV).
2) Afhanklikheid. ‘…die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so’ (vers 19 NLV).
3) Gehoorsaamheid. ‘Ek is nie daartoe in staat om enigiets uit My eie te doen nie… omdat dit nie my wil is wat Ek najaag nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het’ (vers 30 NLV). Wat moet jy wegstuur om sodoende so ‘n verhouding met die Here te hê?
Sielskos: Jes 4-7; Luk 1:11-25; Ps 90:7-17; Spr 1:5-9
2025-01-01
Efesiërs 4:32 NLV
As jy die nuwe jaar graag met ‘n skoon bladsy wil begin en ligter deur die lewe wil reis, moet jy die ou wrokke wat jou afrem laat gaan. Philip Yancey beskryf vergifnis as ‘n ‘onnatuurlike aksie.’ Hy sê: ‘Dis ‘n ‘hond-eet-hond’ wêreld, nie ‘n ‘hond-vergewe-hond’ wêreld nie.’ Bitterheid en haat kom van nature voor wanneer jy seergemaak is. Vergifnis is bonatuurlik en verg God se genade, maar onthou, Jesus het gesê: ‘Maar as julle weier om die mense te vergewe, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie’ (Matteus 6:15 NLV).
Dink daaroor – daar is nie een enkele, enkelvoudige rede hoekom God ons sondes ooit moet vergewe nie, en tog is die oortredings waarvoor Hy ons elke dag vergewe, veel erger as enigiets waarvoor ons ouers, eggenote of vriende ons moet vergewe. Die Bybel sê: ‘…Vergewe mekaar soos God julle vergewe het…’
Vergifnis maak die tronk, waar jy beide die gevangene en die tronkbewaarder is, se deure oop. Wrokke isoleer jou nie net van mense wat eens op ‘n tyd jou vriende was nie, maar verkort ook jou lewe deur dodelike ensieme te produseer wat tot ‘n magdom fisiese kwale bydra.
Een man het vir sy berader gesê: ‘Ek wens my broer kon na my troue toe kom, maar ons het in jare nie met mekaar gepraat nie.’ Die berader het gevra: ‘Hoekom so?’ Die man het stilgebly en na ‘n rukkie geantwoord: ‘Dit klink nou belaglik, maar ek kan nie eers onthou nie!’
Dis ‘n wetenskaplike feit dat vergifnis jare by jou lewe toevoeg. Wanneer jy met individue praat wat die tagtig-jaar-kerf verby gesteek het, vind jy as ‘n reël dat hulle in vrede met hulself leef, omdat hulle geleer het om te vergewe en te laat gaan.
Sielskos: Jes 1-3; Luk 1:1-10; Ps 90:1-6; Spr 1:1-4