Blydskap en hoop

2024-08-12
Romeine 5:4 NLV

Voel dit of die huidige aanval op jou meer is as wat jy kan hanteer? Indien dit die geval is, lees die volgende: ‘Al kry ons nou baie swaar, vat dit glad nie ons blydskap weg nie. Allesbehalwe. Ons weet mos dat swaarkry ons vorm en slyp om nog meer op God te vertrou. En wanneer ons onverskrokke op God vertrou, help dit ons om ‘n sterk Christelike karakter te vorm. En ‘n sterk Christelike karakter maak dat ons deur dik en dun glo dat God se nuwe wêreld op ons wag’ (Romeine 5:3-4 DB).

Jy kan ‘n plek van geestelike volwassenheid bereik waar jy op moeilikheid met blydskap en selfversekerde hoop kan reageer. Dis maklik om te sê: ‘Moenie bekommerd wees nie.’ Wanneer ons egter op God vertrou en dan sy getrouheid in ons lewens sien, gee dit ons die selfversekering om sonder vrees en angs te leef. Dis hoekom dit so belangrik is om deurlopend geloof in God te hê en Hom te midde van moeilike tye te vertrou.

Met God se hulp kan ons die versoeking om tou op te gooi wanneer dinge moeilik raak, weerstaan. God gebruik daardie harde en moeilike tye om geduld, uithouvermoë en karakter in ons te bou wat uiteindelik blydskap en hoop in ons sal meebring. Onthou altyd wanneer jy in ‘n stryd gewikkel is dat jy waardevolle ervaring opdoen wat jou later tot voordeel sal wees. Jy sal God makliker vertrou wanneer moeilike tye hul opwagting maak en jy sal aan ander mense oor die goedheid en getrouheid van God kan getuig.

As jy tans in ‘n stryd gewikkel is, kan jy dit toelaat om jou te oorwin of om jou sterker te laat word! Maak die regte keuse en laat dit toe om jou na ‘n dieper vlak van geestelike volwassenheid te neem.

Sielskos: 1 Kro 10:1-12:22; Luk 12:22-34; Ps 119:25-32; Spr 20:25-27