Bly op die strydwa
2019-03-22Josua 1:5 NLV
Toe Josua op die drumpel van die Beloofde Land gestaan het, het hy besef dat hy eers sewe nasies en veertig konings moes verslaan voor hy die land in besit kon neem. God het toe vir hom gesê: ‘Niemand sal teen jou bestand wees solank jy leef nie… Ek sal jou nooit in die steek laat nie. Ek sal jou nooit los nie.’ Wanneer jy in God se wil, met al die kragte en hulpbronne van die hemel wat agter jou staan, optree, sal jy wen. Dit beteken nie dat jy nie sal moet veg nie, maar jy sal wen! Die rolprent Ben Hur het meer Oscars as enige ander rolprent in die geskiedenis gewen. Charlton Heston, wat die held in die fliek gespeel het, moes ‘n strydwa vir sy rol bestuur. Hy was veronderstel om die strydwa-ren aan die einde van die fliek te wen, maar daar was een probleem: Hy het gesukkel om te leer om die strydwa te hanteer. Hy het na die regisseur, William Wyler, gestap en gesê: ‘Meneer Wyler, ek kan skaars op die strydwa bly. Ek kan nie hierdie resies wen nie.’ Wyler het na Heston gekyk en gesê: ‘Seun, jou werk is om op die strydwa te bly; my werk is om jou te laat wen.’ Elke keer wat jy die kantoor binnestap, of ‘n belangrike vergadering of ‘n werksonderhoud moet bywoon, vertrou op God. Wanneer jy daardie gevreesde doktersafspraak moet maak, of ‘n vriend moet konfronteer wat jou sleg behandel het, vertrou op God. Bly op die strydwa. Moenie ophou om op God te vertrou nie. Jou werk is om gehoorsaam te wees; sy werk is om seker te maak dat jy wen. Wanneer jy jou deel doen, kan jy seker wees dat Hy sy deel sal doen.
Sielskos: Job 35-37; Luk 19:20-27; Ps 38:1-12; Spr 8:22-23