Bly gefokus (2)

2019-07-20
Nehemia 6:3 NLV

Terwyl hy besig was om die mure van Jerusalem te herbou, het Nehemia ontdek dat nie almal rondom hom wou hê dat hy sukses moes behaal nie. Om sy werk te stop, het sy vyande twee dinge gebruik – dreigemente en gerugte. Nietemin het hy Jerusalem se mure in minder as twee maande herbou. Hoe het hy dit gedoen? Hy het op dit wat saak maak gefokus gebly en geweier dat sy aandag daarvan afgetrek word. ‘…Ek het besef dat hulle beplan het om my kwaad aan te doen. Ek het toe vir hulle ‘n boodskap teruggestuur: ‘Ek is met ‘n groot taak besig, ek kan nie nou daarmee ophou en julle ontmoet nie.’ Hulle het die boodskap vier keer vir my gestuur en elke keer het ek vir hulle dieselfde antwoord teruggestuur’ (Nehemia 6:2-4 NLV). In vandag se omgangstaal, het hulle vir hom e-posse gestuur. Hulle het boodskappe op sy Facebookblad geplaas. Hulle het boodskappe op sy selfoon gelaat. Oor en oor het hulle sy aandag met dialoog probeer aflei. Hy het egter geweier om te baklei. Sy antwoordmasjien se boodskap het seker iets soos die volgende geklink: ‘Jy het die huis van Nehemia bereik. Ek is nie hier nie. Ek werk tans aan ‘n groot projek. As dit Sanballat, Tobija of Gesem is, julle mors julle tyd. As dit enigiemand anders is, los asseblief ‘n boodskap na die biep.’ Wanneer jy besluit wat jou lewensprioriteite is, sal hulle jou help om oor alles anders te besluit. Hulle sal jou help om jou oog op die bal te hou. Wanneer dit voel of die lewe teen jou is, vra jouself af: ‘Wat is my grootste prioriteite vir hierdie dag en week?’ Besluit dit in jou gedagtes en fokus dan daarop soos jy die taak wat God jou opgelê het, nastreef.

Sielskos: Hand 24-26; Matt 11:1-9; Ps 1; Spr 16:10-15