Bly gefokus (1)
2019-07-19Spreuke 4:25 NLV
Jare gelede het ‘n vliegtuig in Florida se Everglades neergestort. Soos die vliegtuig die lughawe in Miami genader het, het die ligaanwyser vir korrekte ontplooiing van die landingstelsel gefaal. Hulle het in sirkels oor die moerasse van die Everglades gevlieg terwyl die bemanningslede probeer kyk het of die landingstelsel definitief nie ontplooi het nie, en of die liggie van die aanwysingslig nie dalk foutief was nie. Toe die vlugingenieur die ligaanwyser probeer verwyder om te kyk of dit foutief is, kon hy dit nie los kry nie. Soos hulle met die liggie gesukkel het, het hulle nie agtergekom dat hulle hoogte begin verloor nie. Gevolglik het die vliegtuig reg in die moeras ingevlieg en 101 mense aan boord het gesterf. Alles was verlore, omdat die bemanning besig was om met ‘n gloeilampie te sukkel en hulle oë van dit wat die belangrikste was, afgehaal het. In die lewe sal jy in die versoeking kom om te fokus op dit wat dringend is, eerder as dit wat belangrik is. Soos jy probeer om jou oog op die bal te hou, sal hierdie dilemma konstant jou fokus bedreig: ‘Moet ek die beste kies of net dit wat goed is? Moet ek die korttermyn- of die langtermynperspektief kies?’ Jy moenie fokus verloor nie; jou taak is te belangrik. Salomo som dit as volg op: ‘Kyk reguit vorentoe; bly gefokus op wat voor jou is. Merk jou pad duidelik af, dan sal jy seker wees waarheen jy gaan. Moenie links of regs van jou koers afwyk nie…’ (Spreuke 4:25-27 NLV).
Sielskos: Hand 22-23; Matt 10:32-42; Ps 65; Spr 16:8-9