‘Blaas op my, asem van God.’
2019-07-02Esegiël 37:9-10 NLV
Adam was in die tuin van Eden perfek gevorm, maar hy het geen lewe gehad nie. Hy kon nêrens gaan totdat God se Gees nie in hom in geblaas is nie. Toe het hy saam met God begin wandel, inisiatief geneem en sy roeping in die lewe begin vervul. Jy kan ook dit wat God daardie dag in Adam in geblaas het, ontvang! Dink aan Esegiël se vallei met droë bene. Hulle was dood en deurmekaar. As dit jou lewe tans beskryf, is daar goeie nuus. Toe God asem in hierdie bene geblaas het, het hulle lewendig geword, opgestaan en ‘n weermag geword om mee rekening te hou. Let op dat die Gees van God vanuit die vier windrigtings gekom het. Dit beteken dat daar geen plek op aarde is waar sy Gees jou nie kan bereik as jy beskikbaar vir Hom is nie. Let ook op dat gebreekte dinge reggemaak is en dooie dinge weer lewend gemaak is, toe die Gees van God Esegiël se vallei binne gekom het. God wil dieselfde vir jou doen! Voor God jou egter gebruik, sal Hy jou uit jou gemaksone skud en jou metodes en gevestigde idees uitdaag. Jou verlede is nie vir Hom ‘n probleem nie, omdat sy oë op jou toekoms gevestig is. Kom dus vandag in sy teenwoordigheid en bid: ‘Blaas op my, asem van God. Vul my met nuwe lewe, sodat ek mag doen waarvoor U lief is en wat U sou doen.’ Wanneer Hy sy Gees in jou blaas, sal jy nooit weer dieselfde wees nie.
Sielskos: Jer 41-44; Matt 5:38-6:8; Ps 102:18-28; Spr 15:4-7