Bid vir wysheid (4)
2023-08-22Jakobus 1:5 NLV
Hier is ‘n beproefde en bewese formule om wysheid te bekom:
1) Erken dat jy dit nodig het. Benjamin Franklin het tereg gesê: ‘Die drumpel na die tempel van wysheid is die kennis van jou eie onkunde.’
2) Gaan na die regte bron toe. ‘Dit is tog die Here wat wysheid gee…’ (Spreuke 2:6 NLV). Hy alleen kan ware wysheid gee, want Hy alleen het ware wysheid. Sy wysheid laat ons s’n na dwaasheid lyk. Paulus sê: ‘Hierdie Goddelike ‘dwaasheid’ is oneindig wyser as enige menslike wysheid…’ (1 Korintiërs 1:25 NLV).
3) Vra daarvoor. God gaar nie sy wysheid op nie; Hy is gereed om dit weg te gee. Salomo sê: ‘Roep na insig. Roep hardop vir begrip. Soek daarna soos jy na silwer sou soek. Spoor dit op soos ‘n versteekte skat. Jy sal dan weet wat dit beteken om respek te hê vir die Here. Jy sal agterkom wat dit beteken om God te ken. Dit is tog die Here wat wysheid gee. Sy woorde gee kennis en insig’ (Spreuke 2:3-6 NLV).
Jakobus skryf: ‘Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie. Maar, as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (Jakobus 1:5-8 NLV). Bid vandag vir wysheid.
Sielskos: Rig 7:1-9:33; Mark 7:1-13; Ps 119:105-112; Spr 18:10-12