Bid vir wysheid (3)

2023-08-21
Spreuke 4:7 NLV

Hoekom verwys die Bybel so baie na Salomo se wysheid? Omdat dit nie menslike wysheid is wat tot ‘n bonatuurlike hoogte verhef is nie; dis bonatuurlike wysheid wat tot menslike begrip verlaag is. Luister na wat Salomo, die wysste man in die wêreld, gesê het: ‘Moet nooit afstand doen van die wysheid nie. Dit sal jou beskerm. As jy die wysheid liefhet, sal dit jou beveilig. Die verstandigste ding om te doen, is om eers wysheid te bekom. Wy jou daaraan toe om onderskeidingsvermoë te verkry. Stel wysheid voorop, dan sal dit vir jou aansien gee. Stel dit hoog op prys en dit sal aan jou eer gee’ (verse 6-8 NLV).

In dié lyn merk Haddon Robinson op: ‘Sedert 1955 het kennis elke vyf jaar verdubbel. Hoërskoolgegradueerdes is vandag aan meer inligting as Plato, Aristoteles, Spinoza of Benjamin Franklin blootgestel. Wat feite alleen betref, sal Moses of Paulus nie vandag ‘n universiteit-toelatingseksamen slaag nie. Tog, selfs met al ons kennis, word die samelewing vandag met ‘n groot oes van briljante mislukkings bevolk. Mans en vroue wat opgevoed is om ‘n bestaan te verdien, weet dikwels niks van die hantering van die lewe self nie. Alumni van bekende universiteite het inligting oor ‘n nou stukkie lewe bemeester – maar kan nie graad een slaag wanneer dit by ‘n suksesvolle lewe saam met familie en vriende kom nie. Kennis is nie genoeg om die lewe se probleme te hanteer nie. Ons het wysheid nodig, die vermoë om die lewe met vaardigheid te hanteer.’

Spurgeon het een maal gesê: ‘Daar is geen dwaas so groot soos ‘n wetende dwaas nie; maar om te weet hoe om kennis te gebruik, is om wysheid te hê.’ Hoe meer inligting jy dus aan blootgestel word, hoe meer moet jy vir wysheid bid.

Sielskos: Rig 4-6; Mark 6:45-56; Ps 119:97-104; Spr 18:9