Bid vir wysheid (2)
2023-08-20Spreuke 8:11 NLV
Toe koning Salomo vir God vir wysheid, in plaas van mag, roem, of rykdom gevra het, het God vir hom gesê: ‘…Omdat dit jou hartsbegeerte is; omdat jy nie vir persoonlike rykdom en eer, of die vernietiging van jou vyande, of selfs ‘n lang lewe gevra het nie; omdat jy eerder gevra het vir wysheid en kennis om my volk behoorlik te regeer; sal Ek sekerlik vir jou die wysheid en kennis gee waarvoor jy gevra het. Maar Ek sal ook vir jou rykdom, besittings en eer gee soos geen ander koning voor of na jou ooit sal hê nie’ (2 Kronieke 1:11-12 NLV).
Het God sy belofte gehou? Wel, Salomo het die wêreld se grootste ryk regeer. Sy handelskepe het die see bevaar en hom die skatte van die aarde teruggebring. Hy het van die wêreld se belangrikste geboue, insluitend die tempel, ontwerp en gebou. Hy het reservoirs, parke, tuine en wingerde gebou. Hy het besigheid, wetenskap en letterkunde bemeester. Hy het ‘n digter wat pryse wen, ‘n vooraanstaande skrywer en ‘n begaafde musikant geword. Hy het die ongelooflike waarde van wysheid geleer, al die voordele daarvan geniet en die volgende geskryf: ‘Kies eerder wat ek julle leer. Dit is meer werd as silwer. My kennis is meer werd as goud. Wysheid is baie meer werd as edelstene. Daar is niks waaraan jy kan dink wat teen wysheid kan opweeg nie’ (Spreuke 8:10-11 NLV).
Daar is een-en-dertig hoofstukke in die boek Spreuke – een vir elke dag van die maand. Hier is dus ‘n voorstel: Hoekom lees jy nie ‘n hoofstuk ‘n dag vir die volgende twaalf maande en word wys nie?
Sielskos: Eseg 47:1-12; Op 21:22-22:5