Bid vir goeie oordeel (2)

2021-12-19
1 Konings 3:9 DB

‘Daardie nag het die Here met Salomo in ‘n droom gepraat en vir hom gevra: ‘Wat kan Ek vir jou gee?’ (vers 5 DB). Salomo het geantwoord: ‘…Gee vir my die insig om regverdig te wees en tussen goed en kwaad te kan onderskei…’ (vers 9 DB). Volgende lees ons: ‘Die Here was baie gelukkig met wat Salomo gevra het…’ (vers 10 DB). Die Here was egter nie klaar met Salomo nie: ‘Boonop gee Ek jou ook alles wat jy nie gevra het nie. Jy sal baie ryk wees en die mense sal jou eer. Geen ander koning sal so ryk en so geëerd wees soos jy nie’ (vers 13 DB).

Goeie oordeel het Salomo een van die grootste konings wat nog ooit geheers het, gemaak. Jy het seker al gehoor dat mense sê: ‘Vertrou jou instink!’ Goeie oordeel hang egter nie net van intuïsie, intellek of ervaring af nie. Ons lees in Spreuke: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal vir jou die regte pad wys’ (Spreuke 3:5-6 NLV).

Daar is twee soorte goeie oordeel: natuurlike oordeel en geestelike oordeel. Een soort kan jou in die steek laat – die ander soort sal nie. Wanneer natuurlike oordeel jou nie ‘n tree verder kan bring nie, stel geestelike oordeel jou in staat om met geloof en selfvertroue voort te gaan. Hoe sal jy die verskil herken?

Jakobus sê vir ons: ‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om deernis te bewys, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg’ (Jakobus 3:17 NLV). Kan jy jou so ‘n lewe indink? Die goeie nuus is dat jy so ‘n lewe kan hê!

Sielskos: Jer 31:31-37; Heb 8:1-13; 2 Kor 3:1