Bid God se beloftes (2)
2023-11-29Jeremia 33:3 NLV
Wanneer jy gebede begin bid wat op die Skrif gebaseer is, sal jy die antwoorde wat jy nodig het, kry. Die Bybel is God se Woord en Hy hou altyd sy Woord. Jy moet as volg bid:
1) Wanneer jy nie die antwoord het nie. ‘Vra My, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel…’ (vers 3 NLV).
2) Wanneer jy bekommerd of gestres is. ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV).
3) Wanneer jy geestelike insig nodig het. ‘Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel’ (Johannes 16:13 NLV).
4) Wanneer jy krag vir diensbaarheid nodig het. ‘Ek verseker julle, wie aanhou om in My te glo, sal ook die werke doen wat Ek doen; hy sal selfs nog groter dinge as dit doen omdat Ek na die Vader toe op pad is. Wat julle ook al sou vra in my Naam, dit sal Ek doen sodat die Vader deur die optrede van die Seun verheerlik sal word. As julle enigiets in my Naam vra, sal Ek dit beslis doen’ (Johannes 14:12-14 NLV).
5) Wanneer jy God se seën op jou lewe nodig het. ‘My volk en hulle huise, wat rondom my woonplek is, sal geseënd wees. Ek stuur reënbuie, buie van seëninge’ (Esegiël 34:26 NLV).
Wanneer jy die resultate sien wanneer jy God se beloftes bid, sal jy nooit weer op ‘n ander manier bid nie.
Sielskos: 2 Kron 25-28; Joh 12:12-19; Ps 118:10-18; Spr 28:1-4