Bid God se beloftes (1)

2023-11-28
Johannes 15:7 NLV

Volgens een telling is daar 3,573 beloftes in die Bybel. Dis amper tien beloftes vir elke dag van die jaar. Wanneer jy weet watter van daardie beloftes op jou van toepassing is en dat jy die voorwaardes wat met daardie beloftes gepaardgaan kan vervul, kan jy letterlik God se beloftes in jou lewe tot stand bring deur dit te bid (sien Johannes 15:7 NLV). ‘…julle sal die voorbeeld volg van hulle wat deur hulle geloof en uithouvermoĆ« besig is om te verkry wat God beloof het’ (HebreĆ«rs 6:12 NLV).

Die kragtigste gebed wat jy kan bid is: ‘Here, U het in u Woord beloof dat U… en vandag bid en glo ek U daarvoor.’ Hier is hoe om te bid:

1) Wanneer jy leiding en rigting nodig het. ‘…Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan. Ek sal vir jou raad gee, my oog sal op jou wees’ (Psalm 32:8 NLV).
2) Wanneer jy uit ‘n situasie gered moet word of van ‘n gewoonte ontslae moet raak. ‘Roep na My in die dag van nood. Ek sal jou verlos en jy sal My eer’ (Psalm 50:15 NLV).
3) Wanneer jy krag nodig het om op te staan. ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (Jesaja 41:10 NLV).
4) Wanneer jy nie genoeg het om aan jou behoeftes te voldoen nie. ‘…my God [sal] uit sy ontsaglike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het’ (Filippense 4:19 NLV).

As jy elke dag op God se Woord mediteer, sal jy weet watter van sy beloftes om in gebed op te eis wanneer die behoefte voorkom (sien 2 Petrus 1:4).

Sielskos: 2 Kron 21-24; Joh 12:1-11; Ps 118:1-9; Spr 27:23-27