Bewyse van Christus se opstanding (3)

2024-03-31
Matteus 28:15 NLV

Hier is nog twee bewyse van Christus se opstanding: 1) Niemand is gewillig om vir dit wat hulle weet ‘n leuen is, hul lewe prys te gee nie. Mense lê hul lewens neer vir dit waaraan hulle opreg glo. Die skrywer Paul E. Little het gesê: ‘Mense sal sterf vir dit wat hulle glo waar is, alhoewel dit eintlik vals mag wees. Hulle sterf egter nie vir wat hulle weet ‘n leuen is nie.’ Die feit dat daardie vroeë dissipels gewillig was om soveel lyding te verduur en hulle lewens prys te gee om die evangelie te verkondig, bewys dat hulle in Christus se opstanding geglo het. Dit maak die fondasies van die Christendom onwrikbaar. 2) Christus se vyande het ongelooflik baie moeite gedoen om die opstanding te weerlê. ‘Hulle [die leierpriesters] het toe saam met die familiehoofde beraadslaag. Hulle het vir die soldate ‘n groot som geld aangebied en vir hulle gesê: ‘Julle moet vir die mense vertel: ‘Sy dissipels het mooi in die nag gekom terwyl ons aan die slaap was, en sy liggaam gesteel.’ As die goewerneur hiervan hoor, sal ons hom gerusstel. Ons sal sorg dat julle julle nie hoef te kwel nie.’ Die wagte het toe die geld gevat en gedoen soos aan hulle voorgesê is…’ (verse 12-15 NLV). Die Joodse leiers het alles in hul vermoë gedoen om die waarheid van die opstanding te verdoesel, om sodoende te keer dat nog meer mense hulle tot Hom bekeer. Hulle sou dit egter nie gedoen het indien die opstanding nie werklik plaasgevind het nie. Hulle plan het egter misluk en dit misluk steeds, omdat Jesus lewe!

Sielskos: 1 Kor 15; Matt 28:1-8; Luk 24:1-12