Bewys God se liefde (2)
2019-03-28Matteus 5:46 DB
John Walker skryf: ‘Stuur foto en ek sal antwoord. Dis ‘n algemene boodskap in persoonlike advertensies. Wanneer dit egter daarby kom om ander mense lief te hê, sê jy ook: Stuur eers foto? Ons almal sê dit op verskillende maniere. ‘Ek moet eers sien of jy goed genoeg is… Ek is nie seker jy is my liefde werd nie… Jy moet eers volgens my verwagtinge optree voordat ek vir jou sal lief wees.’ Dis tyd dat ons ophou om mense ‘…volgens ‘n menslike maatstaf…’ (2 Korintiërs 5:16 NLV), te beoordeel. Jesus het in die Bergrede gesê: ‘…[God] doen goeie dinge vir almal. Hy laat die son skyn oor goeie mense en oor slegte mense… As julle net daardie mense liefhet met wie julle goed oor die weg kom, moet julle nie verwag om daarvoor ‘n medalje vir goeie diens by God te kry nie. Almal doen dit tog, ook slegte mense wat nie in God glo nie. As julle net julle familie en vriende groet, het julle nog niks spesiaals gedoen nie. Selfs die grootste sondaars groet ook hulle vriende. Julle moet soos julle hemelse Vader wees…’ (Matteus 5:45-48 DB). God se liefde vir ons is perfek, omdat dit onvoorwaardelik en nie veroordelend is nie. Die Bybel sê dat toe ons sy vyande was, het God sy liefde laat blyk ‘…daarin dat Christus vir ons kom sterf het ten spyte daarvan dat ons nog sondaars was’ (Romeine 5:8 NLV). Is daar iemand in jou lewe wat jou seergemaak het en nou sukkel jy om vir hom/haar lief te wees? Bid dan: ‘Vader, ek sukkel om [naam] lief te hê. Help my om die oordeel en blaam te laat gaan; en om hom of haar lief te hê soos U my liefhet.’
Sielskos: 2 Tess 1-3; Luk 20:9-19; Ps 18:30-50; Spr 8:32-33