Beweeg verby die raaiwerk (3)

2023-03-04
Openbaring 3:7 DB

Hier is nog twee maniere om God se wil vir jou lewe te ken: 1) Voorsienende omstandighede. Wanneer God leiding neem, sal die pad vir jou oopgaan. Wanneer Hy jou stuur, gaan Hy voor jou uit (sien Johannes 10:4). Sy Woord sê: ‘…Waar Hy toesluit, kan niemand oopmaak nie en waar Hy oopsluit, kan niemand toemaak nie.’ Wie sluit die regte deure oop? God. Wie sluit die verkeerde deure toe? God. Die regte deure kan tot seën lei, maar die verkeerde deure lei tot pyn en verlies. Niks behalwe ongeloof kan ‘n deur toehou wanneer God dit beveel om oop te maak nie. Die enigste hulp wat God van jou wil hê, is as volg: ‘…Moenie bang wees nie. Staan net daar waar julle is en kyk hoe die Here julle vandag red…’ (Eksodus 14:13 NLV).

2) Innerlike ‘verkeersligte.’ Jy is ‘n nuwe skepping met ‘n nuwe geestelike aard wat lewendig in God is, toegerus om aan te voel wanneer God in jou beweeg (sien Romeine 6:11 NLV). Die raad van wyse en volwasse Christene kan help, maar die laaste woord moet in jou eie hart gespreek word. ‘Dis mos God wat julle gewillig maak… en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). As jou wil aan God oorgegee is, is Hy besig om te werk om jou wil en gedrag te rig. Glo dit, want Hy verklaar dit so! Hy sal vir jou die ‘rooi lig’ gee wanneer Hy wil hê jy moet stop en die ‘groen lig’ wanneer Hy wil hê jy moet voortgaan. Moenie op rooi beweeg nie! Moenie op groen stop nie!

Sielskos: Eks 18-21; Luk 13:1-17; Ps 77; Spr 6:29