Beweeg terwyl die deur oop is
2019-05-14Lukas 14:18 NLV
Jesus het die verhaal van ‘n man wat ‘n feesmaal beplan het en verskeie gaste uitgenooi het, vertel. Luister na sommige van hulle verskonings hoekom hulle nie die feesmaal kan bywoon nie: ‘Ek het ‘n stuk grond gekoop.’ ‘Ek het ‘n paar osse gekoop.’ ‘Ek is pas getroud.’ Dus het die gasheer gesê: ‘…niemand van hulle wat genooi is, sal selfs die kleinste proeseltjie smaak van wat ek vir hulle voorberei het nie’ (vers 24 NLV). Miskien dink jy dat jy anders is, dat jy ‘n goeie rede het om vir God nee te sê. Is dit egter die moeite werd om daarvoor jou roeping mis te loop? Wanneer God met jou praat, is dit die oomblik van waarheid! Op daardie punt maak jy óf ‘n verbintenis, óf ‘n verskoning. Daar en dan besluit jy jou bestemming! Wat vra God vir jou om te doen? Wat laat jou huiwer? Vrees vir mislukking? Vrees vir kritiek? Vrees word dikwels as ‘n verskoning geklee. Elke keer wat jy weifel of terugtrek, lê jy nog ‘n baksteen in die muur wat jou uiteindelik daarvan gaan weerhou om jou Godgegewe lot te bereik. Die skrywer John Mason sê: ‘Geleentheid gaan dikwels in beraadslaging verlore.’ As God dus vir jou sê om iets te doen, neem sy hand en beweeg in geloof vorentoe. Jy kan nie die rigting van die wind beheer nie, maar met God se genade kan jy jou seile aanpas om jou te neem waarheen jy moet gaan. George Washington Carver het gesê: ‘Nege-en-negentig persent van mislukkings kom van mense wat ‘n gewoonte het om verskonings te maak.’ Onthou, geleentheid is ‘n besoeker: Moenie aanneem dat dit môre gaan terugkom nie. Nou is die tyd om te beweeg – beweeg dus terwyl die deur oop is!
Sielskos: Heb 9:1-11:16; Mark 6:45-56; Ps 75; Spr 11:23