Bewaar God se Woord (4)

2018-06-22
Psalm 119:97 NLV

Mens bewaar God se Woord op drie maniere: 1) Deur dit na te vors. Dit beteken dat jy jou gedagtes daaroor neerskryf. Dit behels ook dat jy vrae soos: Wie? Wat? Wanneer? Waar? Hoekom? Hoe? moet vra. Met ander woorde, jou Bybelstudie moet jou insig gee, nie net inligting nie. 2) Deur dit te onthou. Jy mag dalk dink dat jou geheue sleg is, maar jy het alreeds miljoene idees en feite gememoriseer. Die waarheid is dat ons dit onthou wat waarlik vir ons belangrik is! Daar is enorme voordele daaraan verbonde om die Skrif te memoriseer. Dit sal jou help om versoeking te weerstaan, om beter besluite te maak, stres te verminder, jou selfvertroue op te bou en jou in staat te stel om jou geloof met ander te deel. Begin deur ‘n vers neer te skryf wat jou gehelp het en dra dit op ‘n klein kaartjie saam met jou rond. Sê dit hardop vir jouself terwyl jy werk, oefen, wag en voor jy gaan slaap. Die kuns daarin om Skrifgedeeltes te memoriseer, is om dit aanhoudend te hersien! 3) Deur daarop te reflekteer. Geen ander gewoonte sal jou meer geestelik volwasse laat word as om daagliks oor God se Woord te reflekteer nie. Soos jy dit doen, word jy letterlik ‘…al hoe meer verander om soos die Here te lyk…’ (2 Korintiërs 3:18 NLV). God het Dawid ‘…’n man na my hart…’ (Handelinge 13:22 NLV), genoem. Hoe het hy daardie onderskeiding gekry? Omdat hy lief was daarvoor om oor God se Woord te reflekteer: ‘Hoe lief het ek u gebooie! Ek oordink dit die hele dag.’ Die sleutel tot ‘n suksesvolle Christelike lewe is joune, wanneer jy leer om God se Woord te bewaar.

Sielskos: 2 Kor 1-4; Luk 1:67-80; Ps 139:13-24; Spr 15:31-33