Beskerm jou huwelik

2024-07-26
Johannes 10:10 NLV

Hoekom eindig 50 persent van huwelike, insluitend Christelike huwelike, in die skeihof op? Jesus antwoord hierdie vraag: ‘Die dief kom vir niks anders nie as om te steel, dood te maak en te vernietig. Ek het gekom sodat hulle lewe kan hê, ja, om dit oorvloedig te hê’ (vers 10 NLV). God het die eerste huwelikseremonie tussen Adam en Eva in die tuin van Eden gehou. Die wittebrood het skaars begin voor Satan hulle aangeval het, wat gevoelens van skuld en skeiding van God veroorsaak het. Later in die Skrif, toe Satan nie die patriarg Job deur swere, bankrotskap en leed kon oorwin nie, het hy hom deur sy vrou aangeval. Jou huwelik is een van Satan se vernaamste teikens. Hoe kan jy dit dus beskerm?

1) Ken jou maat se verwagtinge. Is hulle realisties? Het hulle onverwags hul opwagting gemaak toe konflik in die huwelik te voorskyn gekom het? Teleurstelling manifesteer dikwels as woede.

2) Raak vertroud met jou eggenoot se familiegeskiedenis. In baie opsigte is hy of sy ‘n produk van die omgewing waarin hulle grootgeword het. Die waarheid is dat ons met die gereedskap bou en met die wapens veg wat ons ouers vir ons gegee het. Herinneringe van ouerlike woede, kindermishandeling en gesinsargumente kan beïnvloed hoe ons later tydens rusies en hewige gesprekke in die huwelik, reageer.

3) Begin vir jou maat bid. Beter nog – bid saam met hom/haar! Jesus het gesê: ‘…As twee van julle hier op aarde sou saamstem oor enigiets wat julle van God behoort te vra, sal my hemelse Vader dit vir julle doen. Waar twee of drie mense bymekaarkom omdat hulle my mense is, is Ek immers ook saam met hulle daar’ (Matteus 18:19-20 NLV). Beskerm dus jou huwelik – dis een van Satan se grootste teikens.

Sielskos: 1 Tim 1-3; Luk 9:28-36; Ps 1; Spr 19:9-11