Beoefen nederigheid
2017-08-20Markus 9:34 NLV
Toe Jesus sy dissiples vra, ‘…Waaroor het julle op pad geredeneer?’ was hulle besig om te stry oor wie van hulle die belangrikste is, en het hulle nie geantwoord nie. Jesus het gesê, ‘…As jy die vernaamste wil wees, moet jy heel agter inval en almal se dienaar wees’ (verse 33-35 NLV). As Jesus se dissipels, wat vir drie jaar dag en nag saam met Hom geleef het, met die konsep van nederigheid gesukkel het, is niemand van ons daarvan vrygestel nie. Jesus het toe vir hulle ‘n les geleer wat hulle nooit sou vergeet nie. ‘Jesus het geweet dat die Vader alles tot sy beskikking gestel het, en dat Hy van God gekom het en weer na die Vader teruggaan. Hy het toe van die tafel af opgestaan, sy boklere uitgetrek, ‘n doek gevat en dit om Hom vasgebind. Daarna het Hy water in ‘n wasskottel gegooi en begin om die dissipels se voete te was en af te droog met die doek wat om Hom vasgebind was’ (Johannes 13:3-5 NLV). Toe het Hy vir hulle gesê, ‘As Ek dan, wat julle Here en Leermeester is, julle voete gewas het, moet julle ook mekaar se voete was. Ek het vir julle ‘n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen’ (verse 14-15 NLV). Chuck Swindoll skryf: ‘Om die knie te buig om ander te help, of swakheid te erken, word as weerloosheid gesien deur diegene wat jou sal misbruik. Te veel leiers sien hulself as mense wat gedien moet word, behalwe vir kort periodes wanneer dit voordelig is om gesien te word waar hulle ander dien. Dit moenie so vir die volgelinge van Christus wees nie. Vir hulle is nederigheid nie ‘n godsdienstige konsep nie, maar ‘n lewenswyse.’ Beoefen dus vandag nederigheid!
Sielskos: Jer 31:31-37; Heb 8:1-13