Bemoediging vir enkelouers
2019-05-07Genesis 21:18 NLV
Wanneer jy die verhaal van Hagar en haar seun Ismael lees, besef jy hoe baie God vir enkelouers omgee. Alhoewel Abraham Ismael se vader was, het hy die seun en sy ma weggestuur: ‘…Hy het padkos voorberei en ‘n velsak met water oor Hagar se skouers gehang. Toe stuur hy haar en hulle seun weg. Sy het doelloos in die wildernis van Berseba rondgedwaal’ (vers 14 NLV). Op baie maniere is Hagar tiperend van diegene wat deur die wildernis van foute uit die verlede, skaamte, verlating en die vrees om oor te begin, ronddwaal. Die Bybel vertel vir ons dat toe ‘…die water op was, het sy die seun in die koelte van ‘n bos gelos. Sy self het ‘n entjie daarvandaan gaan sit. ‘Ek wil nie sien hoe my seun sterf nie,’ het sy in trane gesê’ (verse 15-16 NLV). As ‘n enkelouer mag jy dalk moeg en eensaam wees. Menslik gesproke het jy die beste gedoen met wat jy het, maar jy het niks meer oor om te gee nie. Die goeie nuus is dat God se hulpbronne onuitputlik is: ‘Hy gee krag aan dié wat moeg is. Hy maak die magteloses sterk’ (Jesaja 40:29 NLV). ‘Maar God het die hulpgeroep van die seun gehoor. Toe roep die engel van God vir Hagar uit die hemel: …’Gaan na hom toe en vertroos hom, want Ek gaan sy nageslag ‘n groot nasie maak.’ Toe maak God Hagar se oë oop en sy sien ‘n put met water…’ (Genesis 21:17-19). God het jou kind nog liewer as wat jy hom het en wanneer jy na Hom toe draai, sal Hy jou ‘n ‘put water’ laat sien wat jy nooit geweet het bestaan nie. Hy het planne vir jou kinders. Die God wat Hagar se kind gered het, kan dieselfde vir joune doen!
Sielskos: Num 32:25-33:56; Mark 5:11-20; Ps 44:17-26; Spr 11:12-13