Bemoedig jou pastoor
2019-02-141 Tessalonisense 5:12 NLV
As jy jou pastoor wil bemoedig, is daar ‘n paar dinge wat jy kan doen: 1) Hou op kritiseer. Die meeste mense se werksprestasies word op ‘n jaarlikse basis beoordeel, maar pastore word elke week beoordeel. Onthou, as ‘n preek nie by jou byval vind nie, is die kans goed dat iemand anders dit moes hoor. 2) ‘Onthou julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het…’ (Hebreërs 13:7 NLV), en bid vir hulle geestelike groei. Goethe het gesê: ‘As jy ‘n persoon behandel soos hy is, sal hy so bly. As jy hom egter behandel soos hy behoort te wees, sal hy word wat hy behoort te wees en wat hy kan wees.’ 3) Skryf ‘n nota. Veral wanneer iets wat jou leier sê of doen by jou aanklank vind. Verbale bemoediging is goed, maar ‘n nota kan herhaaldelik gelees word. 4) Begin met jou talente woeker. As jy byvoorbeeld meganies aangelê is, diens jou pastoor se kar. As jy goed is met tegnologie, help jou pastoor om sy rekenaarvaardighede te verbeter. Vra waar jou vaardighede die nodigste is en word ‘n aktiewe deelnemer. 5) Vermy skinderstories. Jakobus het gesê: ‘As jy dink jy is godsdienstig, maar jy hou nie jou tong in toom nie, bedrieg jy jouself. Jou godsdiens is niks werd nie’ (Jakobus 1:26 NLV). Werk negatiewe praatjies met positiewe opmerkings teë en korrigeer verkeerde inligting met die waarheid. As alles egter faal – loop weg! 6) Wees openlik deelnemend. Niks bemoedig leiers meer as om te sien hoe mense op hulle preke en lesse reageer nie. 7) Verloor die maatstaf. In plaas daarvan om te verwag dat hulle ‘n spieëlbeeld van hulle voorganger moet wees, dank God vir jou pastoor se individuele styl om behoeftige mense te bedien.
Sielskos: Gen 35-36; Luk 9:57-62; Ps 149; Spr 4:25-27