Is jy bekommerd oor jou gesondheid?
2022-11-13Jeremia 30:17 NLV
Hoekom het Johannes geskryf: ‘… ek hou aan bid… dat jy nét so gesond sal wees soos dit geestelik goed met jou gaan’ (3 Johannes vers 2)? Omdat jou liggaam in verhouding tot hoe goed jy geestelik vaar, floreer. Te veel stres verlaag jou immuunstelsel, verhoog jou bloeddruk en veroorsaak cholesterol wat jou are blokkeer. Dit veroorsaak die presiese toestand waarvoor jy bang is. Job het gesê: ‘Dit waarvoor ek gevrees het, het oor my gekom…’ (Job 3:25 NLV). ‘n Sekere hoeveelheid stres is nodig om adrenalien aan die gang te kry, maar te veel daarvan sal jou laat ineenstort.
As Satan jou nie sover kan kry om jou aan slegte dinge oor te gee nie, sal hy jou aan goeie dinge laat oorgee. Jou onkunde oor sy planne wat stres veroorsaak, stel hom in staat om ‘n vastrapplek in jou denke te kry. As jy vandag angstig oor jou gesondheid is, staan op God se Woord:
1) ‘…Spits jou ore vir my woorde! Moet dit nooit uit die oog verloor nie. Hou dit altyd in gedagte. My woorde beteken lewe vir dié wat daarna luister; gesondheid vir die hele liggaam…’ (Spreuke 4:20-22 NLV).
2) “‘Ek sal jou gesond maak en jou wonde genees,’ sê die Here…” (Jeremia 30:17 NLV).
3) ‘Julle mag niemand anders as die Here julle God aanbid nie. Ek sal julle met kos en water en gesondheid seën… Ek sal julle lank en gelukkig laat lewe’ (Eksodus 23:25-26 NLV).
4)’Daarom verklaar Ek vir julle, alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang, mits julle God daarmee vertrou’ (Markus 11:24 NLV).
God se Woord is jou voorskrif vir gesondheid en genesing, neem dit dus daagliks in.
Sielskos: Deut 9:13-29; Luk 4:1-13; Dan 1:3-21