Begin oor die Skrif ‘mediteer’
2023-07-21Psalm 119:97 NLV
Andrew Murray het geskryf: ‘Daar is ‘n direkte verband tussen hoeveel sukses jy in die lewe behaal en hoeveel tyd jy bestee om op God se Woord te mediteer.’ God het vir Josua gesê: ‘Hou hierdie wetboek altyd by jou. Dink dag en nag daaroor na sodat jy alles kan doen wat daarin geskryf is. Jy sal dan sukses behaal op jou pad. Jy sal voorspoedig wees’ (Josua 1:8 NLV).
Ons lewe in ‘n wêreld met ‘n vinnige pas. Ons het altyd geglo dat wanneer ons meer materiële dinge besit, ons gelukkiger sal voel. Dit werk egter nie. Hoe meer besittings ons bekom, hoe meer het ons om te beskerm, te verseker, in stand te hou en oor te stres. Jesus het gesê: ‘…Ware lewe word nie gemeet aan hoeveel ons besit nie’ (Lukas 12:15 NLV).
Wat is dus die antwoord? ‘…Deur berou en tot rus te kom, sal julle gered word. Deur stil te raak en te vertrou, sal julle sterk word…’ (Jesaja 30:15 NLV). Merrill F. Unger skryf in Pathways to Power: ‘Hierdie heilige oefening om die Woord te oordink, dit te kou soos ‘n dier sy kos herkou om die soetheid en voedsaamheid daaruit te kry, neem tyd, wat sleg by die spoed van ons moderne tyd inpas. Vandag is die meeste Christene se Bybelstudie te haastig, hulle lewens te gejaag.’
Die Psalmdigter Dawid het gesê: ‘As ek op my bed lê en aan U dink, oor U nadink in die nag, onthou ek hoe U my gehelp het. Dan wil ek sing in die skaduwee van u vleuels. Ek is aan U verbind, u regterhand hou my staande’ (Psalm 63:7-9 NLV). Beweeg stadiger. Neem tyd om oor God se Woord te mediteer. Jou oorlewing, krag en sukses hang daarvan af.
Sielskos: Hand 10-11; Matt 27:11-26; Ps 146; Spr 16:4-5