Begin om vir God se guns te bid

2017-08-14
Psalm 119:58 NLV

Een oomblik van God se guns sal meer vir jou beteken as ‘n leeftyd se probeerslae. As jy in God se guns begin wandel, word daar deure oopgemaak, die regte mense word na jou toe aangetrek, en jy ontdek idees, strategieë en hulpbronne op die mees onverwagte plekke. Beteken dit dat jy nie teenstand sal ervaar nie? Nee, wanneer jy enigiets van waarde doen, moet jy teenstand van diegene wat nie deel het aan God se plan vir jou lewe nie, verwag. Die Bybel sê egter, ‘Die Here stuur die koning soos Hy wil. Dit is soos ‘n stroom water wat Hy afkeer’ (Spreuke 21:1 NLV). Soos om die rigting van ‘n bewegende stroom te verander, so kan God mense se harte verander en jou guns by diegene gee wat jou andersins sal verwerp of oor die hoof sien. Salomo skryf, ‘As die Here gelukkig is met die manier waarop iemand lewe, sal Hy selfs sy vyande in vrede met hom laat lewe’ (Spreuke 16:7 NLV). Wanneer mense jou dus teenstaan of nie met jou saamstem nie, konsentreer net daarop om God te behaag en laat Hom toe om die situasie te hanteer. God kan jou seën op maniere wat menslik gesproke, jy nie verdien of voor kwalifiseer nie. Net soos die Heilige Gees Jesus toegerus het om Sy missie vir Sy lewe te vervul, so sal Hy jou ook toerus om Sy plan vir jou lewe te vervul (sien Lukas 4:18-19). Hou dus op om so hard te probeer om dinge op jou terme te laat gebeur en begin om vir God se guns te bid. Hy het dit aan jou beloof en Hy kom altyd Sy beloftes na.

Sielskos: 1 Kron 23:21-26:19; Mark 5:1-10; Ps 119:65-72; Spr 21:10-13