Begin om dit te sê wat God sê

2022-06-02
Spreuke 18:21 NLV

Moenie praat sonder om te dink nie. Moet ook nie dinge sê wat God se Woord weerspreek nie. Dit is nie maklike beginsels om volgens te lewe nie, maar dit is kwessies van lewe en dood. Die Bybel sê: ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe…’ Dit beteken dat jy jouself kan seën deur dit wat jy sê. Die Bybel sê: ‘Elkeen in die land wat bid dat dit met hom goed moet gaan, elkeen wat iets belowe, sal my Naam noem, want Ek is die God wat doen wat Ek belowe. Dit sal nie weer so sleg gaan met hulle nie…’ (Jesaja 65:16 ABA).

Let twee dinge in hierdie Skrifgedeelte op: 1) Jou eie woorde beïnvloed jou baie meer as enigiemand anders se woorde. Op die ou einde is dit nie wat ander mense sê nie, maar wat jy vir jouself sê wanneer hulle ophou praat het, wat saak maak. Jy kry altyd die laaste woord in!

2) Jy sal nooit die toekoms wat God vir jou beplan het ingaan, as jy nog in die verlede leef nie. Jy kan nie jou verlede uitwis nie, moet dit dus nie oor en oor in jou gedagtes herleef nie. God het gesê: ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het. Dis niks in vergelyking met wat Ek nog gaan doen nie. Ek gaan iets nuuts doen…’ (Jesaja 43:18-19 NLV).

Dis tyd om met God te begin saamstem en om te begin sê wat Hy oor jou sê. Dis geen geringe saak nie. Wat jy vandat jy soggens opstaan totdat jy saans gaan slaap sê, beïnvloed nie net jou dag nie; dit beïnvloed die hele uitkyk en rigting van jou lewe. Hou dit dus altyd in gedagte wanneer jy praat!

Sielskos: 1 Kon 12-13; Matt 13:47-58; Ps 82; Spr 12:18-19