Begin elke dag nuut!
2023-03-01Spreuke 14:17 NLV
Jy het verslaap, die motor wou nie vat nie, jy was laat vir werk en jou rekenaar het ingegee! Hierdie dinge kan jou kwaad maak, maar slegs as jy dit toelaat. Salomo het gesê: ‘Iemand wat kort van draad is, doen dom dinge…’, wanneer jy dus van woede wil opstyg, moet jy ‘n rowwe landing verwag! Die Bybel sê: ‘Dis beter om geduldig te wees as dapper. Selfbeheersing is beter as om ‘n stad in te neem’ (Spreuke 16:32 NLV).
Dawid het gesê: ‘…Soggens bring ek my versoeke vol verwagting na U toe’ (Psalm 5:4 NLV). Begin om jou dag aan God te offer en jy sal minder geneig wees om in woede te reageer wanneer dinge verkeerd gaan.
Een pastoor skryf: “Ons tyd hier is kort. Wat ‘n jammerte om toe te laat dat iets wat twintig jaar of twintig minute gelede gebeur het, jou dag verwoes. Ek het besluit om elke dag ten volle te geniet. Ek mag dalk foute maak; dinge mag dalk nie volgens plan verloop nie. Ek mag dalk teleurgestel word, maar ek gaan my lewe op ‘n gelukkige manier leef. Ek gaan nie toelaat dat dit wat gebeur, of nie gebeur nie, my vreugde steel nie. Elke oggend sê ek: ‘Vader, dit gaan ‘n wonderlike dag wees. Ek dank U dat ek dissipline en selfbeheersing het; dat ek goeie besluite maak. Ek mag dalk nie alles gister gedoen het wat ek kon nie, maar daardie dag is verby. Vandag gaan ek beter doen.'”
Het jy al ooit gewonder hoekom ‘n motor se voorruit so groot en sy truspieëltjie so klein is? Omdat dit wat agter jou is, nie naastenby so belangrik is soos dit wat voor jou lê nie. Hou dus aan vorentoe kyk en maak nie saak wat vandag gebeur nie, moenie jou vrede verloor nie.
Sielskos: Eks 10-12; Luk 12:22-34; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22