Begin doelbewus lewe

2023-12-21
Spreuke 11:25 DB

Een van die beste maniere om jou lewe in balans te hou en geestelik op die regte pad te bly, is om dit wat jy weet aan ander oor te dra. Die Bybel sê: ‘…Wie die nood van die gemeenskap raak sien, word deur almal geëer.’ Soos jy jou insigte oordra, sal jy meer insigte van God kry. Paulus het Timoteus uitgedaag: ‘…Leer hierdie groot waarhede aan betroubare mense wat bekwaam is om dit aan ander deur te gee’ (2 Timoteus 2:2 NLV).

As jy mense ken wat nog nie hulle Godgegewe doel in die lewe ontdek het nie, is dit jou werk om met hulle te deel wat met jou gedeel is. Moet byvoorbeeld nie net hierdie dagstukkie lees en dit vir jouself hou nie, deel dit met jou vriende. Hoe meer jy weet, hoe meer verwag God van jou om daardie kennis te gebruik om ander te help. Dis hoe dinge veronderstel is om in sy koninkryk te werk. Jakobus skryf: ‘Hou in gedagte: As ‘n mens weet wat reg is en dit nie doen nie, is dit sonde’ (Jakobus 4:17 NLV).

Om die doel van die lewe oor te dra is meer as net ‘n verpligting; dis een van ons grootste voorregte. Dink jou in hoe anders die wêreld sou wees as almal hulle roeping geken het. Dis hoekom Paulus skryf: ‘As jy dit aan die broers en susters voorhou, sal jy jou plig doen as ‘n waardige dienaar van Christus Jesus…’ (1 Timoteus 4:6 NLV). Nie net wil God hê dat ons sy doelwitte moet uitleef nie, Hy wil hê dat ons ander moet help om dieselfde te doen. Ongeag jou ouderdom, kan die res van jou lewe die beste van jou lewe wees as jy hierdie een ding doen – doelbewus begin lewe!

Sielskos: Miga 1-4; Joh 19:1-16; Ps 12; Spr 31:1-5