Ag jouself nederig

2023-12-08
Lukas 18:14 NLV

Jesus het gesê: ‘Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar. Die Fariseër het stelling ingeneem en by homself gebid: ‘O God, ek is dankbaar teenoor U dat ek nie soos die ander mense is nie – diewe, onregverdiges, ontugtiges of ook soos hierdie tollenaar. Ek vas twee keer gedurende die week, en ek gee ‘n tiende van alles wat ek verdien!’ Die tollenaar het op ‘n afstand stelling ingeneem en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het vol skuldbesef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my as ‘n sondaar genadig!’ Ek sê vir julle: Hierdie man, eerder as die eerste een, gaan huis toe as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat homself verhef bo ander, sal verneder word, maar hy wat homself nederig ag, sal verhoog word’ (verse 10-14 NLV).

Jy kan soos die vroomste mens in die kerk lyk en steeds ‘n hart vol hooghartigheid hê. Die ergste is dat jy dit nie weet nie. As jy byvoorbeeld die krediet neem vir al die goed wat God jou in staat gestel het om te bereik en te verkry, is jy hooghartig. Wanneer jy jouself met ander mense vergelyk, is dit hooghartigheid. Wanneer jy dink dat jy die wil van God sonder die krag van God kan doen, is jy hooghartig. Wanneer jy mense wat nie by jou portuurgroep of sosiale sirkel inpas nie uitsluit, is jy hooghartig.

Jy sal ‘n prys daarvoor betaal, want: ‘…God is téén mense wat te veel van hulleself dink, maar aan dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, gee Hy sy onverdiende goedheid’ (Jakobus 4:6 NLV). As jy dus in sy guns vandag wil wandel, moet jy jouself nederig voor Hom ag.

Sielskos: Jos 11-13; Joh 14:26-15:4; Ps 147:12-20; Spr 29:6-10